Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees ’n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën.
sê hy: Vervloek is Kanaän! ’n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers. Verder het hy gesê: Geseënd is die HERE, die God van Sem. Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.
dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.
Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. Juda is ’n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ’n leeu en soos ’n leeuin; wie sal hom opjaag? Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.
EN daarna het Dawid die Filistyne verslaan en hulle onderwerp; en Dawid het die gesag oor die moederstad uit die hand van die Filistyne geneem. Hy het die Moabiete ook verslaan en hulle gemeet met ’n lyn deur hulle op die grond te laat lê: en hy het twee mate gemeet om dood te maak en een volle maat om te laat lewe; en die Moabiete het Dawid se belastingpligtige knegte geword. Verder het Dawid Hadadéser, die seun van Rehob, die koning van Soba, verslaan, toe dié getrek het om sy mag aan die Eufraatrivier te herstel. En Dawid het van hom duisend-sewehonderd perderuiters afgeneem en twintigduisend man voetgangers, en Dawid het al die trekperde se hakskeensenings afgesny, maar honderd trekperde daarvan laat oorbly. En die Arameërs van Damaskus het gekom om Hadadéser, die koning van Soba, te help; maar Dawid het onder die Arameërs twee-en-twintigduisend man verslaan. En Dawid het wagposte in Aram-Damaskus uitgesit, sodat die Arameërs Dawid se belastingpligtige knegte was; en die HERE het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het. En Dawid het die goue skilde geneem wat die dienaars van Hadadéser gedra het, en dit na Jerusalem gebring. En uit Bétag en uit Berotái, stede van Hadadéser, het koning Dawid ontsaglik veel koper weggeneem. Toe Toï, die koning van Hamat, hoor dat Dawid die hele leërmag van Hadadéser verslaan het, stuur Toï sy seun Joram na koning Dawid om hom na die welstand te vra en hom geluk te wens, omdat hy teen Hadadéser geveg en hom verslaan het—want Hadadéser het gedurig oorlog gevoer met Toï—en in sy hand was silwer- en goue en kopervoorwerpe. Dit het koning Dawid ook aan die HERE geheilig, saam met die silwer en die goud wat hy geheilig het van al die nasies wat hy onderwerp het: van die Arameërs en die Moabiete en van die kinders van Ammon en van die Filistyne en van die Amalekiete en van die buit van Hadadéser, die seun van Rehob, die koning van Soba. En Dawid het naam gemaak toe hy, by sy terugkoms van die neerlaag van die Arameërs, in die Soutdal agttienduisend Edomiete verslaan het. En Dawid het wagposte in Edom uitgesit, in die hele Edom het hy wagposte uitgesit, en al die Edomiete het Dawid se knegte geword; en die HERE het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het. En Dawid het oor die hele Israel geregeer, en Dawid het aan sy hele volk reg en geregtigheid gedoen. En Joab, die seun van Serúja, was oor die leër; en Jósafat, die seun van Ahílud, was kanselier. En Sadok, die seun van Ahítub, en Ahiméleg, die seun van Ábjatar, was priesters, en Serája was skrywer. En Benája, die seun van Jójada, was oor die Kreti en die Pleti, en die seuns van Dawid was priesters.
EN daarna het die koning van die kinders van Ammon gesterwe, en sy seun Hanun het in sy plek koning geword. Toe sê Dawid: Ek wil guns bewys aan Hanun, die seun van Nahas, soos sy vader aan my guns bewys het. Daarom het Dawid gestuur om hom deur sy dienaars oor sy vader te troos. Toe die dienaars van Dawid dan in die land van die kinders van Ammon kom, het die vorste van die kinders van Ammon aan Hanun, hulle heer, gesê: Eer Dawid u vader in u oë, omdat hy vir u troosters gestuur het? Het Dawid nie sy dienaars na u gestuur om die stad te deursoek en dit te verken en dit om te keer nie? Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer die een helfte van hulle baard af en sny hulle klere in die helfte af, tot by hulle sitplekke; en hy het hulle laat gaan. En toe hulle aan Dawid hiervan berig bring, stuur hy om hulle tegemoet te gaan, want die manne was baie skaam. En die koning het gesê: Bly in Jérigo totdat julle baard weer gegroei het; kom dan terug. Toe die kinders van Ammon sien dat hulle hul gehaat gemaak het by Dawid, het die kinders van Ammon gestuur en die Arameërs van Bet-Rehob en die Arameërs van Soba gehuur, twintigduisend voetgangers, en van die koning van Máäga, duisend man, en die manne van Tob, twaalfduisend man. En Dawid het dit gehoor en Joab met die hele leër, die helde, gestuur. En die kinders van Ammon het uitgetrek en die slagorde opgestel by die ingang van die poort, terwyl die Arameërs van Soba en Rehob en die manne van Tob en Máäga afsonderlik in die veld was. Toe Joab sien dat ’n aanval van voor sowel as van agter hom bedreig, het hy uit al die uitgesoektes in Israel ’n keuse gedoen en hulle opgestel teenoor die Arameërs. Maar die ander manskappe het hy onder bevel van sy broer Abísai geplaas en dié het hulle opgestel teenoor die kinders van Ammon. En hy het gesê: As die Arameërs vir my te sterk word, moet jy my te hulp kom, en as die kinders van Ammon vir jou te sterk word, sal ek kom om jou te help. Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk en vir die stede van onse God. Mag die HERE dan doen wat goed is in sy oë! Daarop het Joab en die manskappe wat by hom was, nader gekom om teen die Arameërs te veg, en hulle het vir hom gevlug. Toe die kinders van Ammon sien dat die Arameërs vlug, het hulle ook vir Abísai gevlug en die stad ingegaan. En Joab het van die kinders van Ammon af omgedraai en in Jerusalem aangekom. Toe die Arameërs dan sien dat hulle voor Israel verslaan was, het hulle dig aaneengesluit. Ja, Hadaréser het gestuur en die Arameërs van oorkant die Eufraat laat uittrek, en hulle het in Helam aangekom, met Sobag, die leërowerste van Hadaréser, op hulle voorpunt. Intussen het Dawid daarvan berig gekry en die hele Israel versamel en deur die Jordaan getrek en in Helam aangekom; en die Arameërs het hulle teenoor Dawid opgestel en teen hom geveg. Maar die Arameërs het vir Israel gevlug, en Dawid het van die Arameërs sewehonderd trekperde en veertigduisend ruiters gedood, en Sobag, die leërowerste, so gewond, dat hy daar gesterf het. En toe al die onderhorige konings van Hadaréser sien dat hulle voor Israel verslaan was, het hulle met Israel vrede gesluit en hulle gedien; en die Arameërs was bevrees om die kinders van Ammon langer te help.
Verder was Salomo heerser oor al die koninkryke van die Eufraat af tot by die land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte; hulle het belasting aangebring en Salomo gedien al die dae van sy lewe.
Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot.
tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.
Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan — net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ’n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.
Toe antwoord Isak en sê vir Esau: Kyk, ek het hom as heerser oor jou gestel en aan hom al sy broers as dienaars gegee; en ek het hom met koring en mos versorg. Wat kan ek dan nou vir jóu doen, my seun?
En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg. En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien. ... Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop.
En Dawid het wagposte in Edom uitgesit, in die hele Edom het hy wagposte uitgesit, en al die Edomiete het Dawid se knegte geword; en die HERE het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het.
Toe Dawid dan met Edom besig was, en Joab, die leërowerste, opgetrek het om die gesneuweldes te begrawe, het hy al wat manlik was, in Edom doodgeslaan — want ses maande lank het Joab daar gebly met die hele Israel totdat al die manlike persone in Edom deur hom uitgeroei was —
Maar Amásia het moed geskep en sy manskappe aangevoer en die Soutdal ingetrek en die kinders van Seïr, tienduisend, verslaan. En tienduisend het die kinders van Juda lewendig as gevangenes weggevoer en hulle op die top van die krans gebring en hulle van die top van die krans afgegooi, sodat hulle almal verpletter is. Maar die manskappe van die troepe wat Amásia laat teruggaan het om nie saam met hom in die oorlog te trek nie, het ’n plundertog onderneem in die stede van Juda, van Samaría af tot by Bet-Horon, en drieduisend van hulle verslaan en baie buit geroof. En nadat Amásia tuisgekom het van die verslaan van die Edomiete, het hy die gode van die kinders van Seïr gebring en hulle vir hom as gode opgestel en hom voor hulle neergebuig en vir hulle offerrook laat opgaan.
VIR die musiekleier; op die wysie van: „Die Lelie van die Getuienis.” ’n Gedig van Dawid, om te onderrig. Toe hy oorlog gevoer het teen die Arameërs van Mesopotámië en die Arameërs van Soba, en Joab teruggekom en die Edomiete verslaan het in die Soutdal, twaalfduisend. o God, U het ons verstoot, ons vanmekaar geskeur; U was toornig; herstel ons! U het die land laat bewe, dit gekloof; genees sy breuke, want dit wankel! U het u volk harde dinge laat sien; U het ons bedwelmende wyn laat drink. U het aan die wat U vrees, ’n banier gegee, om te vlug vir die boog! Sela. Sodat u bemindes gered mag word; verlos deur u regterhand en verhoor ons! God het gespreek in sy heiligdom: Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel en die dal van Sukkot afmeet. Gílead is myne en Manasse is myne, en Efraim is die beskutting van my hoof; Juda is my veldheerstaf. Moab is my waskom; op Edom werp Ek my skoen; jubel oor My, o Filistéa! Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie kan my lei tot in Edom? Het Ú, o God, ons nie verwerp nie? En U trek nie uit, o God, saam met ons leërs nie. Verleen ons hulp teen die vyand, want die mens se hulp is ydelheid. In God sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap.
U het die land laat bewe, dit gekloof; genees sy breuke, want dit wankel! U het u volk harde dinge laat sien; U het ons bedwelmende wyn laat drink. U het aan die wat U vrees, ’n banier gegee, om te vlug vir die boog! Sela. Sodat u bemindes gered mag word; verlos deur u regterhand en verhoor ons! God het gespreek in sy heiligdom: Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel en die dal van Sukkot afmeet. Gílead is myne en Manasse is myne, en Efraim is die beskutting van my hoof; Juda is my veldheerstaf. Moab is my waskom; op Edom werp Ek my skoen; jubel oor My, o Filistéa! Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie kan my lei tot in Edom? Het Ú, o God, ons nie verwerp nie? En U trek nie uit, o God, saam met ons leërs nie. Verleen ons hulp teen die vyand, want die mens se hulp is ydelheid. In God sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap.
WIE is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap? Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom. En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun. En Ek het volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop.
Ek het julle liefgehad, sê die HERE. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad? Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die HERE. Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte ’n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee. As Edom sê: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou—dan sê die HERE van die leërskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af; en die mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die HERE vertoornd is tot in ewigheid! En julle oë sal dit aanskou, en julle sal sê: Groot is die HERE oor die gebied van Israel!
Kyk, daar het ’n volk uit Egipte getrek en hulle het die oppervlakte van die land oordek. Kom nou, vervloek hulle vir my; miskien sal ek hulle kan beveg en hulle verdrywe. Toe sê God vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.
Ek het gehoor die smaadtaal van Moab en die beskimpinge van die kinders van Ammon, waarmee hulle my volk gesmaad het, en hoe hulle hul groot gehou het teen sy grondgebied. Daarom, so waar as Ek leef, spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Moab sal word soos Sodom en die kinders van Ammon soos Gomorra—’n veld van brandnekels en soutpanne en ’n verwoesting vir ewig; die oorblyfsel van my volk sal hulle berowe, en die res van my nasie sal hulle beërwe.
En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. ... Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.