Op dié dag het die HERE met Abram ’n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:
Verder het God met Noag en sy seuns by hom gespreek en gesê: Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle, en met al die lewende wesens wat by julle is: die voëls, die vee en al die wilde diere van die aarde by julle—al wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere van die aarde. En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie. En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: my boog gee Ek in die wolke; dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ’n vloed word om alle vlees te verdelg nie. As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is. En God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.
TOE Abram negen-en-negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees. En Ek wil my verbond sluit tussen My en jou, en jou buitengewoon vermeerder. Toe val Abram op sy aangesig, en God het met hom gespreek en gesê: Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van ’n menigte van nasies word. Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou ’n vader van ’n menigte van nasies. En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom. En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ’n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ’n God wees. Verder het God aan Abraham gesê: Maar jý moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag. Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word— julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en julle. ’n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie— die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as ’n ewige verbond. En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie—dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek. Verder het God aan Abraham gesê: Sarai, jou vrou, moet jy nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sara wees. En Ek sal haar seën en jou uit haar ook ’n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom. Toe val Abraham op sy aangesig, en hy lag en sê in sy hart: Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, ’n kind gebore word? Of kan Sara, wat negentig jaar oud is, baar? En Abraham sê aan God: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig! Toe antwoord God: Voorwaar, jou vrou Sara sal vir jou ’n seun baar, en jy moet hom Isak noem; en Ek sal my verbond met hom oprig as ’n ewige verbond vir sy nageslag ná hom. Ook wat Ismael aangaan, het Ek jou verhoor. Kyk, Ek seën hom en maak hom vrugbaar en vermeerder hom buitengewoon. Twaalf vorste sal hy verwek, en Ek sal hom ’n groot nasie maak. Maar my verbond sal Ek oprig met Isak wat Sara vir jou anderjaar op hierdie tyd sal baar. En nadat Hy klaar met hom gespreek het, het God van Abraham af opgevaar. Daarop neem Abraham sy seun Ismael en almal wat in sy huis gebore is, en almal wat met sy geld gekoop is, almal wat manlik was onder die mense in die huis van Abraham, en hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde dag besny, soos God met hom gespreek het. En Abraham was negen-en-negentig jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is. En sy seun Ismael was dertien jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is. Op daardie selfde dag is Abraham en sy seun Ismael besny en al die manne van sy huis—die wat in sy huis gebore en die wat van vreemdelinge met geld gekoop is, is saam met hom besny.
Die HERE, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee—Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar ’n vrou gaan haal.
Want is my huis nie so by God nie? Want Hy het ’n ewige verbond vir my daargestel wat in alles gereël en verseker is; want al my heil en alle welgevalle, ja, sal Hy dit nie laat uitspruit nie?
Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.
En Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie.
So spreek die HERE: As julle my verbond met die dag en my verbond met die nag kan verbreek, dat daar geen dag of nag op hulle tyd is nie, dan sal ook my verbond met Dawid, my kneg, verbreek kan word, dat daar vir hom geen seun sal wees wat regeer op sy troon nie, en met die Leviete, die priesters, my dienaars. Soos die leër van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat My dien. Verder het die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê: Het jy nie gemerk wat hierdie volk spreek nie as hulle sê: Die twee geslagte wat die HERE uitverkies het, dié het Hy verwerp? En hulle verag my volk, sodat dit geen nasie voor hulle meer is nie. So sê die HERE: As Ek my verbond met dag en nag, die insettinge van hemel en aarde, nie vasgestel het nie, dan sal Ek ook die nageslag van Jakob en van my kneg Dawid verwerp, dat Ek nie uit sy nageslag heersers sal neem oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie; want Ek sal hulle lot verander en My oor hulle ontferm.
Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs ’n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie. Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus. Maar ek sê dít: die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie.
MAG die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het,
En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ’n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ’n God wees.
En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word;
En mag Hy jou gee die seën van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou, dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem wat God aan Abraham gegee het. ... En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word.
En Josef het aan sy broers gesê: Ek gaan sterwe, maar God sal gewis op julle ag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het.
Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ’n goeie en wye land, na ’n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete.
Want my Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig.
Ek sal my skrik voor jou uit stuur en elke volk waarby jy kom, in verwarring bring. En Ek sal al jou vyande vir jou laat vlug. Ook sal Ek perdebye voor jou uit stuur; dié sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor jou uit verdrywe. Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou te veel word nie. Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word en die land beërwe. En Ek sal jou grense vasstel van die Skelfsee af tot by die See van die Filistyne, en van die woestyn af tot by die Eufraat. Want Ek sal die inwoners van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdrywe.
Julle suidekant dan moet van die woestyn Sin af langs Edom wees; en julle suidelike grens moet aan die oostekant van die einde van die Soutsee af wees;
Trek weg en breek op en gaan na die gebergte van die Amoriete en na al sy naburige plekke: die Vlakte, die Gebergte en die Laeveld en die Suidland en by die seekus—die land van die Kanaäniete en die Líbanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier. Kyk, Ek gee die land aan julle oor; gaan in en neem die land in besit wat die HERE aan julle vaders Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het om dit aan hulle te gee en aan hulle nageslag ná hulle.
AS die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy;
Elke plek waar julle voetsool op trap, sal aan julle behoort; van die woestyn en die Líbanon, van die rivier, die Eufraatrivier, tot by die Westelike See sal julle grondgebied wees.
En die HERE het vir hom gesê: Dit is die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy sal daarheen nie oortrek nie.
Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het. Van die woestyn en hierdie Líbanon af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier, die hele land van die Hetiete, en tot by die Groot See in die weste sal julle grondgebied wees.
EN dit is die konings van die land wat die kinders van Israel verslaan en wie se land hulle in besit geneem het oos van die Jordaan teen sonop; van die Arnonrivier af tot by die berg Hermon, en die hele Vlakte teen die ooste: Sihon, die koning van die Amoriete wat in Hesbon gewoon het, wat geheers het van Ároër af wat aan die kant van die Arnonrivier lê: van die middel van die rivier af en oor die helfte van Gílead tot by die Jabbokrivier, die grens van die kinders van Ammon; en oor die Vlakte tot by die Kínnerotsee, na die ooste toe, en tot by die See van die Vlakte, die Soutsee, oostelik in die rigting van Bet-Hajésimot en teen die suide onderaan die hange van Pisga; en die grondgebied van Og, die koning van Basan, uit ’n oorblyfsel van die Refaïete, wat in Ástarot en Edréï gewoon het, en wat geheers het oor die gebergte Hermon en oor Salka en oor die hele Basan tot by die grens van die Gesuriete en die Maägatiete, en tot die helfte van Gílead, die grondgebied van Sihon, die koning van Hesbon. Moses, die kneg van die HERE, en die kinders van Israel het hulle verslaan; en Moses, die kneg van die HERE, het dit as ’n besitting gegee aan die Rubeniete en die Gadiete en die halwe stam van Manasse. En dit is die konings van die land wat Josua en die kinders van Israel verslaan het, duskant die Jordaan na die weste toe: van Baäl-Gad in die laagte van die Líbanon af tot by die Kaal Berg wat oploop na Seïr toe; en Josua het dit as ’n besitting aan die stamme van Israel gegee volgens hulle afdelings — op die Gebergte en in die Laeveld en in die Vlakte en aan die hange en in die woestyn en in die Suidland: die Hetiete, Amoriete en Kanaäniete, die Feresiete, Hewiete en Jebusiete: die koning van Jérigo, een; die koning van Ai wat langsaan Bet-el lê, een; die koning van Jerusalem, een; die koning van Hebron, een; die koning van Jarmut, een; die koning van Lagis, een; die koning van Eglon, een; die koning van Geser, een; die koning van Debir, een; die koning van Geder, een; die koning van Horma, een; die koning van Arad, een; die koning van Libna, een; die koning van Adúllam, een; die koning van Makkéda, een; die koning van Bet-el, een; die koning van Tappúag, een; die koning van Hefer, een; die koning van Afek, een; die koning van Lassáron, een; die koning van Madon, een; die koning van Hasor, een; die koning van Simron-Meron, een; die koning van Agsaf, een;
EN die tweede lot het uitgekom vir Símeon, vir die stam van die kinders van Símeon volgens hulle geslagte; en hulle erfdeel was in die middel van die erfdeel van die kinders van Juda. En hulle het in hulle erfdeel gehad: Beër-Seba en Seba en Mólada, en Hasar-Sual en Bala en Esem, en Eltólad en Betul en Horma, en Siklag en Bet-Hammarkábot en Hasar-Susa, en Bet-Lebáot en Sarúhen: dertien stede met hulle dorpe; Ajin, Rimmon en Eter en Asan: vier stede met hulle dorpe; en al die dorpe wat rondom hierdie stede was, tot by Báälat-Beër, die Rama van die Suidland. Dit is die erfdeel van die stam van die kinders van Símeon volgens hulle geslagte. Uit die aandeel van die kinders van Juda is die erfdeel van die kinders van Símeon, omdat die deel van die kinders van Juda vir hulle te groot was; daarom het die kinders van Símeon geërwe in die middel van húlle erfdeel. EN die derde lot het opgekom vir die kinders van Sébulon volgens hulle geslagte, en die lyn van hulle erfdeel was tot by Sarid. En hulle lyn loop op in westelike rigting na Marála en raak aan Dabbéset en aan die spruit wat teenoor Jókneam loop; en van Sarid af swaai dit na die oostekant, teen sonop, na die gebied van Kislot-Tabor, en loop aan na Daberat en loop op na Jáfia; en daarvandaan loop dit oor na die ooste teen sonop, na Gat-Hefer, na Et-Kasin, en loop aan na Rimmon wat hom na Nea toe uitstrek; dan swaai die lyn noord daaromheen na Hannáton en loop dood by die dal Jiftag-El; en Kattat en Náhalal en Simron en Jídeala en Betlehem: twaalf stede met hulle dorpe. Dit was die erfdeel van die kinders van Sébulon volgens hulle geslagte; hierdie stede met hulle dorpe. VIR Íssaskar het die vierde lot uitgekom, vir die kinders van Íssaskar volgens hulle geslagte; en hulle grondgebied was na Jísreël toe en Kesúllot en Sunem, en Hafaráim en Sion en Anagárat, en Rabbit en Kísjon en Ebes, en Remet en En-Gannim en En-Hadda en Bet-Pases; en die lyn raak aan Tabor en Sahasíma en Bet-Semes, en hulle gebied loop dood by die Jordaan: sestien stede met hulle dorpe. Dit is die erfdeel van die stam van die kinders van Íssaskar volgens hulle geslagte, die stede met hulle dorpe. EN die vyfde lot het uitgekom vir die stam van die kinders van Aser volgens hulle geslagte; en hulle gebied was: Helkat en Hali en Beten en Agsaf, en Allamméleg en Amead en Miseal; en raak in die weste aan die Karmel en aan Sihor-Libnat; dan draai dit teen sonop na Bet-Dagon en raak aan Sébulon en die dal Jiftag-El in die noorde, Bet-Emek en Nehíël, en loop aan links by Kabul; en Ebron en Rehob en Hammon en Kana tot by Groot-Sidon; dan draai die lyn na Rama en tot by die vesting Tirus; dan draai die lyn na Hosa en loop dood by die see, van die landstreek af wat na Agsib toe lê; en Umma en Afek en Rehob: twee-en-twintig stede met hulle dorpe. Dit is die erfdeel van die stam van die kinders van Aser volgens hulle geslagte; hierdie stede met hulle dorpe. VIR die kinders van Náftali het die sesde lot uitgekom, vir die kinders van Náftali volgens hulle geslagte; en hulle lyn was van Helef, van die eikeboom by Saänánnim af, en Adámi-Nekeb en Jabneël tot by Lakkum, en dit loop dood by die Jordaan; dan draai die lyn in westelike rigting na Asnot-Tabor en loop daarvandaan aan na Hukkok en raak in die suide aan Sébulon; en aan Aser raak dit in die weste, en aan Juda aan die Jordaan in die ooste; en die versterkte stede: Siddim, Ser en Hammat, Rakkat en Kinnéret, en Adama en Rama en Hasor, en Kedes en Edréï en En-Hasor, en Jireon en Mígdal-El, Horem en Bet-Anat en Bet-Semes: negentien stede met hulle dorpe.
Verder was Salomo heerser oor al die koninkryke van die Eufraat af tot by die land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte; hulle het belasting aangebring en Salomo gedien al die dae van sy lewe.
En U het sy hart getrou bevind voor u aangesig, en U het met hom die verbond gesluit om die land te gee van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete en Feresiete en Jebusiete en Girgasiete, om dit aan sy nageslag te gee; en U het u woorde vervul, want U is regverdig.
En in dié dag sal die HERE vrugte afslaan, van die stroom van die Eufraat af tot by die spruit van Egipte, en júlle sal ingesamel word, een vir een, o kinders van Israel!