Want die HERE het dit so bestier dat hulle hul hardnekkig voorgeneem het om Israel te bestry, sodat dié hulle met die banvloek sou tref, dat daar vir hulle geen genade sou wees nie; maar dat dié hulle sou verdelg, soos die HERE Moses beveel het.
En die HERE sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.
Maar Sihon, die koning van Hesbon, wou ons nie by hom laat deurtrek nie; want die HERE jou God het sy gees verhard en sy hart verstok, dat Hy hom in jou hand kon gee soos dit vandag is.
Maar sy vader en sy moeder het nie geweet dat dit van die HERE kom nie; want Hy het rede gesoek teen die Filistyne; in dié tyd naamlik het die Filistyne oor Israel geheers.
As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ’n mens teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree? Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring.
So het die koning dan nie na die volk geluister nie, want dit was ’n beskikking van die HERE, sodat Hy sy woord sou vervul wat die HERE gespreek het deur die diens van Ahía, die Siloniet, tot Jeróbeam, die seun van Nebat.
En die HERE het gesê: Wie sal Agab oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so. Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die HERE staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die HERE vra hom: Waarmee? En hy sê: Ek sal uitgaan en ’n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so. En nou, kyk, die HERE het ’n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee, en die HERE het onheil oor u gespreek.
En terwyl hy met hom spreek, sê hy vir hom: Het ons jou as raadgewer van die koning aangestel? Hou op, waarom sal hulle jou doodmaak? Toe hou die profeet op en sê: Ek merk dat God besluit het om u te vernietig, omdat u dit gedoen het en nie na my raad geluister het nie.
En Hy het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.
So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil. ... En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid,
En al daardie koningstede met al hulle konings het Josua geneem en hulle met die skerpte van die swaard verslaan; hy het hulle met die banvloek getref, soos Moses, die kneg van die HERE, beveel het. Net al die stede wat op hulle heuwels gelê het, dié het Israel nie verbrand nie, behalwe Hasor alleen—wat Josua verbrand het. En al die buit van daardie stede en die vee het die kinders van Israel vir hulleself buitgemaak; net al die mense het hulle verslaan met die skerpte van die swaard, totdat hulle dié verdelg het; hulle het niks wat asemhaal, laat oorbly nie. Soos die HERE Moses, sy kneg, beveel het, so het Moses aan Josua bevel gegee, en so het Josua gehandel; hy het niks nagelaat van alles wat die HERE Moses beveel het nie.
Maar van die stede van hierdie volke wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, moet jy niks wat asem het, laat lewe nie. Maar jy moet hulle heeltemal met die banvloek tref: die Hetiete en Amoriete, die Kanaäniete en Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, soos die HERE jou God jou beveel het;