Filippense 4:9
En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.
in my gesien
Filippense 3:17
Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.
1 Korinthiërs 10:31-33
Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God. Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie; net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word.
1 Korinthiërs 11:1
WEES my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.
1 Thessalonisense 1:6
En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees,
1 Thessalonisense 2:2-12, 14
maar alhoewel ons vantevore, soos julle weet, in Filíppi gely het en mishandel is, het ons in onse God vrymoedigheid gehad om aan julle die evangelie van God te verkondig onder veel stryd. Want ons vermaning was nie uit dwaling of uit onsuiwerheid of uit bedrog nie; maar soos ons deur God waardig geag is dat die evangelie aan ons toevertrou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef. Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie. Ook het ons nie eer van mense, òf van julle òf van ander gesoek nie, al kon ons as apostels van Christus met gesag optree. Maar ons was vriendelik onder julle soos ’n pleegmoeder haar kinders koester. Terwyl ons so na julle verlang het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het. Julle onthou tog, broeders, ons arbeid en inspanning; want terwyl ons nag en dag gewerk het om niemand van julle te beswaar nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig. Julle is getuies, en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo, hoe ons, soos julle weet, net soos ’n vader sy kinders, elkeen van julle vermaan en bemoedig het en betuig het dat julle waardiglik moet wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep. ... Want julle, broeders, het navolgers geword van die gemeentes van God wat in Christus Jesus is in Judéa, omdat julle ook dieselfde dinge gely het van julle eie stamgenote net soos hulle van die Jode,
1 Thessalonisense 4:1-8
VERDER dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees. Want julle weet watter bevele ons julle deur die Here Jesus gegee het. Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie; dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die Here ’n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons aan julle ook vantevore gesê en betuig het. Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het.
2 Thessalonisense 3:6-10
Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie. Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as ’n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg. Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.
doen dit
Deuteronómium 5:1
EN Moses het die hele Israel laat roep en vir hulle gesê: Hoor, Israel, die insettinge en die verordeninge wat ek vandag voor julle ore uitspreek; julle moet dit leer en dit sorgvuldig hou.
Mattheüs 5:19-20
Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.
Mattheüs 7:21, 24-27
Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. ... Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ’n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.
Lukas 6:46
En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?
Lukas 8:21
Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen.
Johannes 2:5
Sy moeder sê vir die dienaars: Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen.
Johannes 13:17
As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.
Johannes 15:14
Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.
Handelinge 9:6
En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.
2 Thessalonisense 3:4
En ons vertrou aangaande julle in die Here dat julle doen en ook sal doen wat ons julle beveel.
Jakobus 1:22
En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.
2 Petrus 1:10
Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.
1 Johannes 3:22
en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.
God van vrede
Filippense 4:7
En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.
Romeine 15:33
En die God van vrede sy met julle almal! Amen.
Romeine 16:20
En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen.
1 Korinthiërs 14:33
want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.
2 Korinthiërs 5:19-20
naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.
2 Korinthiërs 13:11
Verder, broeders, wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.
1 Thessalonisense 5:23
En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!
Hebreërs 13:20-21
MAG die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.
met julle wees
Jesaja 8:10
Neem ’n besluit, en dit sal verydel word; maak ’n afspraak, en dit sal nie tot stand kom nie; want God is met ons!
Jesaja 41:10
Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.
Mattheüs 1:23
Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.
Mattheüs 28:20
En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.
2 Timótheüs 4:22
Mag die Here Jesus Christus met jou gees wees! Die genade sy met julle! Amen.