Galásiërs 5:19
En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;
werke van die vlees
Galásiërs 5:13,17
Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. ... want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
Galásiërs 6:8
Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.
Psalms 17:4
Aangaande die handelinge van die mens, ék het deur die woord van u lippe die paaie van die geweldenaar vermy.
Johannes 3:6
Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Romeine 7:5,18,25-26
Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra. ... Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. ... Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.
Romeine 8:3,5,9,13
Want God het — wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees — deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, ... Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. ... julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. ... want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.
1 Korinthiërs 3:3
omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?
1 Petrus 4:2
om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God.
owerspel
Esegiël 22:6-13
Kyk, die vorste van Israel was in jou, elkeen na sy krag, om bloed te vergiet. Hulle het vader en moeder in jou verag, die vreemdeling in jou met geweld behandel, wees en weduwee in jou verdruk. My heilige dinge het jy geminag en my sabbatte ontheilig. Kwaadsprekers was daar in jou om bloed te vergiet, en by jou het hulle op die berge geëet en skandelikheid in jou gedoen. Hulle het die skaamte van die vader in jou ontbloot; haar wat onrein was deur maandelikse onreinheid, het hulle in jou onteer. Die een het ’n gruwelike ding gedoen met die vrou van sy naaste, en die ander het sy skoondogter verontreinig deur ’n skandelike daad, en ’n derde het in jou sy suster, sy vader se dogter, onteer. Hulle het omkoopgeskenke in jou aangeneem om bloed te vergiet; rente en woeker het jy geneem en jou naaste te veel laat betaal deur verdrukking, maar My het jy vergeet, spreek die Here HERE. Kyk, so slaan Ek dan in my hand oor jou onregverdige wins wat jy gemaak het, en oor jou bloedskuld wat in jou is.
Mattheüs 15:18-19
Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak. Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.
Markus 7:21-23
Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.
Romeine 1:21-32
omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer — hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.
1 Korinthiërs 6:9-10
Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.
2 Korinthiërs 12:20-21
Want ek vrees dat ek julle by my koms miskien nie sal vind soos ek wens nie, en dat ek deur julle gevind sal word soos julle nie wens nie — dat daar miskien sal wees twis, jaloersheid, toornigheid, verdeeldheid, kwaadsprekery, nuusdraery, verwaandheid, wanordelikheid; dat as ek gekom het, my God my miskien weer by julle sal verneder en ek sal treur oor baie van die wat vroeër gesondig het en hulle nie bekeer het van die onreinheid en hoerery en ongebondenheid wat hulle bedryf het nie.
Efésiërs 4:17-19
DIT sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie — mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.
Efésiërs 5:3-6
Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging. Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ’n afgodedienaar is, ’n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie. Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid.
Kolossense 3:5-8
Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.
1 Timótheüs 1:9-10
en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moeder-moorders, moordenaars, hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is,
Titus 3:3
Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ’n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.
Jakobus 3:14-15
Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels;
1 Petrus 4:3-4
Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye. Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saam loop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster.
Openbaring 21:8
Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars — hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.
Openbaring 22:15
Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.