En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.
En ek weet, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid; ek het in die opregtheid van my hart al hierdie dinge vrywillig gegee; en nou het ek met blydskap gesien hoe u volk, hier aanwesig, vrywillig aan U gegee het.
Maar, HERE van die leërskare, wat die regverdige toets, wat die niere en die hart sien—laat my u wraak sien op hulle, want aan U het ek my regsaak toevertrou.
Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.
maar soos ons deur God waardig geag is dat die evangelie aan ons toevertrou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef.
En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.
Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.
En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.
Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God; en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.
En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.