Handelinge 7:43
Ja, julle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, die beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid. En Ek sal julle anderkant Babilon wegvoer.
opgeneem
Levitikus 18:21
En van jou kinders mag jy nie gee om vir Molog deur die vuur te laat deurgaan nie, dat jy die Naam van jou God nie ontheilig nie. Ek is die HERE.
Levitikus 20:2-5
Jy moet ook aan die kinders van Israel sê: Elkeen uit die kinders van Israel of uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat van sy kinders aan Molog gee, moet sekerlik gedood word. Die volk van die land moet hom stenig. En Ek sal my aangesig teen dié man rig en sal hom uitroei onder sy volk uit; want hy het van sy kinders aan Molog gegee om my heiligdom te verontreinig en my heilige Naam te ontheilig. En as die volk van die land hulle oë maar enigsins toemaak vir dié man as hy van sy kinders aan Molog gee, sodat hulle hom nie doodmaak nie, dan sal Ek my aangesig rig teen dié man en sy geslag, en Ek sal hom en almal wat agter hom aan hoereer om agter Molog aan te hoereer, uitroei onder hulle volk uit.
2 Konings 17:16-18
En hulle het al die gebooie van die HERE hulle God verlaat en vir hulle gegote beelde, twee kalwers, gemaak, ja, ’n heilige boomstam gemaak en gebuig voor die hele leër van die hemel en Baäl gedien. En hulle het hul seuns en hul dogters deur die vuur laat deurgaan en met waarsêery omgegaan en voortekens verklaar en hulleself verkoop om te doen wat verkeerd was in die oë van die HERE, om Hom te terg. So het die HERE dan baie toornig op Israel geword, sodat Hy hulle van sy aangesig verwyder het; niks het oorgebly nie as net die stam van Juda alleen.
2 Konings 21:6
ook sy seun deur die vuur laat deurgaan en met goëlery en verklaring van voortekens omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE om Hom te terg.
beelde
Eksodus 20:4-5
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;
Deuteronómium 4:16-18
sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle ’n gesnede beeld, ’n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie: ’n afbeelding van man of vrou, ’n afbeelding van enige dier wat op die aarde is, ’n afbeelding van enige gevleuelde voël wat in die lug vlieg, ’n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, ’n afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is;
Deuteronómium 5:8-9
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;
wegvoer
2 Konings 17:6
In die negende jaar van Hoséa het die koning van Assirië Samaría ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat woon in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië.
2 Konings 18:11
En die koning van Assirië het Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat bly in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië;
Amos 5:27
Daarom sal Ek julle anderkant Damaskus in ballingskap wegvoer, sê die HERE wie se Naam God van die leërskare is.