Handelinge 2:38
En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
General
Handelinge 3:19
Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word
Handelinge 17:30
God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,
Handelinge 20:21
terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus.
Handelinge 26:20
maar ek het eers aan die mense in Damaskus en in Jerusalem en in die hele land van Judéa en aan die heidene verkondig dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God bekeer deur werke te doen wat by die bekering pas.
Mattheüs 3:2, 8-9
gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. ... Dra dan vrugte wat by die bekering pas. En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek.
Mattheüs 4:17
Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.
Mattheüs 21:28-32
MAAR wat dink julle? ’n Man het twee kinders gehad, en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. En hy antwoord en sê: Ek wil nie; maar later het hy berou gekry en gegaan. Toe het hy na die tweede gegaan en vir hom net so gesê; en hy antwoord en sê: Ja, heer. En hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het die wil van die vader gedoen? Hulle antwoord Hom: Die eerste. Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God. Want Johannes het na julle gekom in die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en die hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie.
Lukas 15:1-32
EN al die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te kom en na Hom te luister. En die Fariseërs en die skrifgeleerdes het baie gemurmureer en gesê: Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle. Toe vertel Hy aan hulle hierdie gelykenis en sê: Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die negen-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie? En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers. En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was. Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie. Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie ’n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het. So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer. HY het ook gesê: ’n Man het twee seuns gehad. En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel. En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ’n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe. En toe hy alles deurgebring het, kom daar ’n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly. Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas. En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie. Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge. En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ’n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word. En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange. En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken. Dié sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het. En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom. Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ’n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag. Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.
Lukas 24:47
en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.
General
Handelinge 8:36-38
En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.
Handelinge 16:15, 31-34
En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing. ... Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was. En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense. Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle ’n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.
Handelinge 22:16
En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.
Titus 3:5
nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees
1 Petrus 3:21
waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ’n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ’n bede tot God om ’n goeie gewete — deur die opstanding van Jesus Christus
General
Handelinge 8:12, 16
Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue. ... want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus.
Handelinge 10:48
En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog ’n paar dae te bly.
Handelinge 19:4-5
Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.
Mattheüs 28:19
Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Romeine 6:3
Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
1 Korinthiërs 1:13-17
Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop? Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Crispus en Gajus, sodat niemand kan sê dat ek in my naam gedoop het nie. Ek het ook nog die huisgesin van Stéfanas gedoop. Verder weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie. WANT Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.
General
Handelinge 2:16-18
Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.
Handelinge 8:15-17
Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.
Handelinge 10:44-45
En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is.
Jesaja 32:15
totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn ’n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir ’n bos gereken.
Jesaja 44:3-4
Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge. En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope.
Jesaja 59:21
Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie.
Esegiël 36:25-27
Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.
Esegiël 39:29
En Ek sal my aangesig nie meer vir hulle verberg nie, omdat Ek my Gees oor die huis van Israel uitgegiet het, spreek die Here HERE.
Joël 2:28-29
En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.
Sagaría 12:10
Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind.