Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.
Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?
DIE HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af. Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af. Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; toe fonteine, swaar van water, nog nie daar was nie; voordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore; toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie. Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy ’n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed; toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het; toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het — toe was ek ’n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd, en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders.
Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.
Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, ... en: U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande.
Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers. Toe sien ek, en ek hoor ’n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende; en met ’n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! En die vier lewende wesens het gesê: Amen! En die vier-en-twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid.
IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.
En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.