Psalmsing tot eer van die HERE met die siter, met die siter en die stem van gesang, met trompette en basuingeklank; juig voor die aangesig van die Koning, die HERE! Laat die see bruis en sy volheid, die wêreld en die wat daarin woon. Laat die riviere in die hande klap, die berge tesame jubel voor die aangesig van die HERE; want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld rig in geregtigheid en die volke met reg.
EN in dié dag sal jy sê: Ek dank U, HERE, dat U toornig op my gewees het; u toorn is afgewend, en U het my vertroos. Ja, God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie; want die HERE HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.
Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek. En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die HERE op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp.
STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóu sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.
Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. ... En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.