En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.
Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël.
Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. En elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, onthou hom in alles — húlle nogal om ’n verwelklike krans te ontvang, maar ons ’n onverwelklike. Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.
Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.
Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie, en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie, daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom; as julle verskrikking kom soos ’n onweer, en julle ondergang soos ’n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval. Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie.
Wel soek hulle My dag vir dag en het ’n behae in die kennis van my weë! Soos ’n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ’n behae in die toenadering tot God. Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie?—Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan. Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie.
En hulle kom na jou toe soos ’n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan.
Want Johannes het aan Herodes gesê: Dit is u nie geoorloof om u broer se vrou te hê nie. En Heródias het ’n oog op hom gehad en wou hom om die lewe bring en sy kon nie. Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy ’n regverdige en heilige man was, en hy het hom beskerm; en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister.
My kinders, nog ’n klein tydjie is Ek by julle. Julle sal My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het: Waar Ek heengaan, kan julle nie kom nie — so sê Ek nou ook vir julle.
terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ’n steen van aanstoot en ’n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.