En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.
As Ek nie gekom en met hulle gespreek het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hul sonde nie. Wie my haat, haat ook my Vader. As Ek nie die werke onder hulle gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle geen sonde hê nie. Maar nou het hulle dit gesien, en tog het hulle My sowel as my Vader gehaat. Maar die woord wat in hulle wet geskrywe is, moet vervul word: Hulle het My sonder oorsaak gehaat.
DAAROM is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ’n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge. ... En sal hy wat van nature onbesnede is en die wet volbring, jou nie oordeel wat ondanks letter en besnydenis ’n oortreder van die wet is nie?