Markus 16:18
slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.
slange sal hulle opneem
Genesis 3:15
En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.
Psalms 91:13
Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.
Lukas 10:19
Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.
Handelinge 28:3-6
En Paulus het ’n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en ’n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt. En toe die inboorlinge die dier aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: Hierdie man is beslis ’n moordenaar wat die goddelike wraak nie laat lewe nie, al is hy uit die see gered. Maar hy het die dier in die vuur afgeskud en geen kwaad gely nie. En hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood neerval; maar toe hulle lank gewag en gesien het dat niks besonders met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy ’n god was.
Romeine 16:20
En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen.
iets dodeliks drink
2 Konings 4:39-41
Toe gaan een uit in die veld om groente te versamel; en hy het wilde ranke gekry en daarvan sy kleed vol karkoere gepluk en gekom en dit in die kookpot stukkend gesny; want hulle het dit nie geken nie. Daarna het hulle vir die manne opgeskep om te eet; maar net toe hulle van die kooksel eet, skreeu hulle en roep: Man van God, die dood is in die pot! En hulle kon dit nie eet nie. Maar hy sê: Gaan haal dan meel. En hy gooi dit in die pot en sê: Skep uit vir die mense, dat hulle eet. En daar was niks verkeerds in die pot nie.
hande lê
Handelinge 3:6-8,12,16
Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop! Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys. ... En toe Petrus dit sien, sê hy vir die volk: Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd, of waarom kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsvrug bewerk het dat hy loop? ... En deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak, en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal.
Handelinge 4:10,22,30
laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. ... Want die man aan wie hierdie teken van genesing plaasgevind het, was meer as veertig jaar oud. ... deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.
Handelinge 5:15-16
sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val. En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.
Handelinge 9:17-18,34,40-42
En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop. ... En Petrus sê vir hom: Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op! En hy het dadelik opgestaan. ... En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle. En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo.
Handelinge 19:12
sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.
Handelinge 28:8-9
En die vader van Públius het siek gelê aan koors en buikloop. En Paulus het ingegaan na hom toe, en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak. En hierna het ook die ander wat siektes gehad het op die eiland, na hom gekom en is genees.
1 Korinthiërs 12:9
aan ’n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ’n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
Jakobus 5:14-15
Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.