Markus 15:24
En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp oor wat elkeen moes kry.
gekruisig
Deuteronómium 21:23
dan mag sy lyk nie aan die paal oornag nie, maar jy moet hom sekerlik dié dag nog begrawe; want een wat opgehang is, is deur God vervloek. En jy mag jou land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, nie verontreinig nie.
Psalms 22:17-18
Want honde het my omsingel; ’n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe. Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer!
Jesaja 53:4-8
Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ’n lam wat na die slagplek gelei word en soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote—wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.
Handelinge 5:30
Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan ’n kruishout te hang.
2 Korinthiërs 5:21
Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
Galásiërs 3:13
Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word — want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang —
1 Petrus 2:24
wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.
klere verdeel deur die lot te werp
Psalms 22:19
Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.
Mattheüs 27:35-36
En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp. En hulle het gaan sit en Hom daar bewaak.
Lukas 23:34
En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp.
Johannes 19:23-24
En toe die soldate Jesus gekruisig het, neem hulle sy klere en maak vier dele, vir elke soldaat ’n deel, en die onderkleed; maar die onderkleed was sonder naat, van bo af in een stuk gewewe. En hulle het vir mekaar gesê: Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s’n dit sal wees — sodat die Skrif vervul sou word wat sê: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad het hulle die lot gewerp. Dit het die soldate dan gedoen.