Mattheüs 27:4
en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!
Ek het gesondig
Genesis 42:21-22
Toe sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie—daarom kom hierdie benoudheid oor ons. Daarop antwoord Ruben hulle: Het ek nie vir julle gesê nie: Besondig julle nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed geëis.
Eksodus 9:27
Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en vir hulle gesê: Ek het dié keer sonde gedoen. Die HERE is reg, maar ek en my volk het ongelyk.
Eksodus 10:16-17
Toe het Farao gou vir Moses en Aäron laat roep en gesê: Ek het gesondig teen die HERE julle God en teen julle. Vergeef dan tog nou net dié keer my sonde, en bid tot die HERE julle God, dat Hy net hierdie dood van my af wegneem.
Eksodus 12:31
Daarop het hy Moses en Aäron in die nag laat roep en gesê: Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien die HERE soos julle gespreek het.
1 Samuel 15:24,30
Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister. ... En hy sê: Ek het gesondig; eer my tog nou voor die oudstes van my volk en voor Israel, en kom saam met my terug, dat ek die HERE u God kan aanbid.
1 Konings 21:27
En toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en ’n roukleed om sy lyf gebind en gevas; hy het ook met die roukleed geslaap en stadig rondgeloop.
Romeine 3:19
Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees;
onskuldige
Mattheüs 27:19,23-24,54
En terwyl hy op die regbank sit, het sy vrou na hom gestuur en gesê: Moet tog niks te doen hê met dié regverdige man nie, want ek het vandag in ’n droom baie gely om sy ontwil. ... En die goewerneur sê: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Maar hulle skreeu nog harder en sê: Laat Hom gekruisig word! En toe Pilatus sien dat niks help nie, maar dat daar eerder ’n oproer kom, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien! ... En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God.
2 Konings 24:4
en ook oor die onskuldige bloed wat hy vergiet het, sodat hy Jerusalem met onskuldige bloed gevul het; daarom wou die HERE nie vergewe nie.
Jeremia 26:15
Maar weet verseker as julle my doodmaak dat julle onskuldige bloed bring op julleself en op hierdie stad en op sy inwoners; want die HERE het my waarlik na julle gestuur om al hierdie woorde voor julle ore te spreek.
Jona 1:14
Toe roep hulle tot die HERE en sê: Ag, HERE, laat ons tog nie vergaan weens die lewe van hierdie man nie, en bring geen onskuldige bloed oor ons nie; want U, HERE, het gedoen na u welbehae.
Lukas 23:22,41,47
En vir die derde keer sê hy vir hulle: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Ek het in Hom niks gevind wat die dood verdien nie. Ek sal Hom dan kasty en loslaat. ... ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie. ... En toe die hoofman oor honderd sien wat daar gebeur, het hy God verheerlik en gesê: Waarlik, hierdie man was regverdig.
Johannes 19:7
Die Jode antwoord hom: Ons het ’n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.
Handelinge 13:28
En al het hulle niks gevind wat die dood verdien nie, tog het hulle van Pilatus gevra dat Hy omgebring moes word.
Hebreërs 7:26
Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het;
1 Petrus 1:19
maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos,
Wat gaan dit ons aan?
Mattheüs 27:25
En die hele volk antwoord en sê: Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!
Handelinge 18:15-17
maar as dit ’n geskil is oor ’n woord en oor name en oor ’n wet wat vir julle geld, moet julle toesien, want daaroor wil ek geen regter wees nie. En hy het hulle van die regterstoel weggedryf. En al die Grieke het Sósthenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom voor die regterstoel geslaan; en Gállio het hom aan niks van hierdie dinge gesteur nie.
1 Timótheüs 4:2
deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete,
Titus 1:16
Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.
1 Johannes 3:12
nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig.
Openbaring 11:10
Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir mekaar geskenke stuur, omdat dié twee profete die bewoners van die aarde gepynig het.
toesien
1 Samuel 28:16-20
En Samuel sê: Maar waarom raadpleeg jy my terwyl die HERE van jou gewyk en jou vyand geword het? Die HERE het dan vir Homself gedoen soos Hy deur my diens gespreek het, en die HERE het die koningskap uit jou hand geskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee. Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister en die gloed van sy toorn teen Ámalek nie uitgevoer het nie, daarom het die HERE jou vandag hierdie ding aangedoen. En die HERE sal Israel ook saam met jou in die hand van die Filistyne gee, en môre sal jy met jou seuns by my wees; ook die leër van Israel sal die HERE in die hand van die Filistyne gee. En Saul het plotseling in sy volle lengte op die grond geval en baie bevrees geword deur die woorde van Samuel; buitendien was daar geen krag in hom nie, want hy het die hele dag en die hele nag geen brood geëet nie.
Job 13:4
Maar julle pleister met leuens, kwaksalwers is julle almal.
Job 16:2
Dergelike dinge het ek al baie gehoor: treurige vertroosters is julle almal.
Lukas 16:25-26
Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle ’n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.