En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp.
En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien. ... Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. ... Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.
laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.
En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp oor wat elkeen moes kry. En dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het. En die opskrif van sy beskuldiging was bokant Hom geskrywe: DIE KONING VAN DIE JODE. Hulle het ook twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regter- en een aan sy linkerkant. En die Skrif is vervul wat sê: En Hy is by die misdadigers gereken. En die verbygangers het Hom gesmaad, terwyl hulle hul hoof skud en sê: Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, verlos Uself en kom af van die kruis! En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes gespot en vir mekaar gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo! Ook die wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.
En toe die soldate Jesus gekruisig het, neem hulle sy klere en maak vier dele, vir elke soldaat ’n deel, en die onderkleed; maar die onderkleed was sonder naat, van bo af in een stuk gewewe. En hulle het vir mekaar gesê: Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s’n dit sal wees — sodat die Skrif vervul sou word wat sê: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad het hulle die lot gewerp. Dit het die soldate dan gedoen.