Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal die loon van ’n profeet ontvang; en wie ’n regverdige ontvang omdat hy ’n regverdige is, sal die loon van ’n regverdige ontvang.
En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot ’n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom of Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.
En almal wat julle nie ontvang nie — as julle van daardie stad weggaan, skud selfs die stof van julle voete af, tot ’n getuienis teen hulle. ... en sê vir hulle: Elkeen wat hierdie kindjie ontvang in my Naam, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het; want wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees.
Maar in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul nie ontvang nie, gaan uit op sy strate en sê: Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het.
Ook het ek my boesem uitgeskud en gesê: Mag God so elke man uitskud wat hierdie woord nie bevestig nie, uit sy huis en uit sy besitting; en mag hy so uitgeskud en leeg wees! Toe sê die hele vergadering: Amen! en hulle het die HERE geprys. En die volk het volgens hierdie woord gehandel.
Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê: Julle bloed is op julle hoof. Ek is rein. Van nou af sal ek na die heidene gaan.
Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.