Obadja 1:15
Want die dag van die HERE is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom.
General
Psalms 110:5-6
Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn. Hy sal ’n strafgerig hou onder die nasies; Hy maak dit vol dooie liggame; Hy verbrysel ’n hoof oor ’n groot land.
Jeremia 9:25-26
Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek besoeking sal doen oor almal wat besny is, wat nogtans onbesnede is: oor Egipte en Juda en Edom en oor die kinders van Ammon en Moab en oor almal wat die rand van hulle hare wegskeer, wat in die woestyn woon; want al die heidene is onbesnede, maar die hele huis van Israel is onbesnede van hart.
Jeremia 25:15-29
Want so het die HERE, die God van Israel, vir my gesê: Neem hierdie beker van die wyn van grimmigheid uit my hand en gee dit om te drink aan al die nasies na wie Ek jou stuur, dat hulle kan drink en waggel en rasend word weens die swaard wat Ek onder hulle stuur. En ek het die beker uit die hand van die HERE geneem en al die volke laat drink na wie die HERE my gestuur het; naamlik Jerusalem en die stede van Juda en sy konings en sy vorste, om hulle te maak ’n puinhoop, ’n voorwerp van verbasing, van bespotting en van vervloeking soos dit vandag is; Farao, die koning van Egipte, en sy dienaars en sy vorste en sy hele volk; en die hele gemengde bevolking en al die konings van die land Us; en al die konings van die land van die Filistyne, en Áskelon en Gasa en Ekron en die oorblyfsel van Asdod; Edom en Moab en die kinders van Ammon; en al die konings van Tirus en al die konings van Sidon en al die konings van die kusland wat oorkant die see is; Dedan en Tema en Bus en almal wat die rand van hulle hare wegskeer; en al die konings van Arabië en al die konings van die gemengde bevolking wat in die woestyn woon; en al die konings van Simri en al die konings van Elam en al die konings van Médië; en al die konings van die Noorde wat naby en ver is, die een ná die ander; ja, al die koninkryke van die aarde wat op die aardbodem is. En die koning van Sesag sal ná hulle drink. En jy moet vir hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Drink en word dronk en spuug en val neer en staan nie weer op nie weens die swaard wat Ek onder julle stuur. En as hulle weier om die beker uit jou hand te neem om te drink, moet jy vir hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare: Drink sál julle! Want kyk, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, begin Ek met onheile—en sal júlle heeltemal ongestraf bly? Julle sal nie ongestraf bly nie, want Ek roep die swaard op teen al die inwoners van die aarde, spreek die HERE van die leërskare.
Jeremia 49:12
Want so sê die HERE: Kyk, hulle wat eintlik die beker nie moes drink nie, moet sekerlik drink; en jy, sou jy heeltemal ongestraf bly? Jy sal nie ongestraf bly nie, maar sekerlik drink.
Klaagliedere 4:21-22
Sjin. Verbly en verheug jou, dogter van Edom, wat in die land Us woon; ook na jou sal die beker kom, jy sal dronk word en jouself ontbloot. Tau. Jou straf het sy einde bereik, dogter van Sion, Hy sal jou nie weer in ballingskap laat wegvoer nie. Hy besoek jou ongeregtigheid, dogter van Edom, Hy openbaar jou sondes.
Esegiël 30:3
Want naby is ’n dag, ja, naby is ’n dag van die HERE, ’n dag van wolke; die tyd van die nasies sal dit wees.
Joël 3:11-14
Haas julle en kom aan, alle nasies rondom, en versamel julle. Laat u helde, HERE, daarheen aftrek! Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Jósafat; want daar sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies rondom. Steek die sekel in, want die oes is ryp! Kom trap, want die parskuip is vol, die kuipe loop oor! Want hulle boosheid is groot. Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die HERE in die dal van beslissing!
Miga 5:14
En Ek sal in toorn en grimmigheid wraak neem op die nasies wat nie geluister het nie.
Sagaría 14:14-18
En Juda sal ook in Jerusalem veg, en die rykdom van al die nasies rondom sal ingesamel word: goud en silwer en klere—’n groot hoeveelheid. En soos hierdie plaag is, sal die plaag wees van die perde, die muile, die kamele en die esels en van al die diere wat in daardie laers is. En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie—hulle sal geen reën kry nie. En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die HERE die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie.
General
Rigters 1:7
Daarop sê Adóni-Besek: Sewentig konings met afgekapte duime en groottone het onder my tafel krummels opgetel: soos ek gedoen het, so het God my vergeld. En hulle het hom na Jerusalem gebring, en daar het hy gesterwe.
Psalms 137:8
o Dogter van Babel, jy verwoeste, gelukkig is hy wat jou sal vergeld wat jy ons aangedoen het!
Esegiël 35:15
Soos jy vrolik was oor die erfdeel van die huis van Israel, omdat dit verwoes is, so sal Ek met jou maak: jy sal ’n wildernis word, o berg Seïr en die hele Edom, almal saam. En hulle sal weet dat Ek die HERE is.
Joël 3:7-8
Kyk, Ek sal hulle laat opstaan uit die plek waarheen julle hulle verkoop het, en julle dade op julle hoof laat neerkom. En Ek sal julle seuns en julle dogters aan die kinders van Juda verkoop, en dié sal hulle verkoop aan die Sabeërs, aan ’n verafgeleë volk; want die HERE het dit gespreek.
Habakuk 2:8
Omdat jy baie nasies uitgebuit het, sal al die volke wat oorgebly het, jou uitbuit, weens die bloed van die mense en die geweld teen die land, die stad en al sy inwoners.
Mattheüs 7:2
Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.
Jakobus 2:13
Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel.