Ja, Ek sal die sprinkaanswerm, uit die noorde afkomstig, van julle af wegjaag en dit wegdrywe na ’n dor en woeste land; sy voorhoede na die Oostelike See en sy agterhoede na die Westelike See toe. En sy stank sal opstyg, en ’n slegte reuk uit hom opgaan; want hy het alte groot dinge gedoen.
’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ’n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie. Voor hom uit verteer ’n vuur, en agter hom brand ’n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit ’n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie. Sy voorkoms is soos dié van perde, en net soos ryperde so hardloop hulle. Soos die gedruis van waens huppel hulle oor die bergtoppe, soos die geknetter van ’n vuurvlam wat die kaf verteer, soos ’n magtige volk wat vir die geveg opgestel is. Vir hom bewe die volke van angs, alle aangesigte verbleek. Soos helde hardloop hulle, soos krygsmanne klim hulle op die muur, en elkeen gaan sy eie koers; hulle verander nie van pad nie. En die een druk nie die ander nie; elkeen gaan sy eie pad; en tussen wapens deur val hulle; maar hulle bly in gelid. Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos ’n dief. Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in. En die HERE verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?
Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind. Word wakker, julle dronkaards, en ween! En huil, al julle wyndrinkers! Oor die mos, omdat dit van julle mond weggeruk is. Want ’n sterk en ontelbare nasie het opgetrek oor my land; sy tande is leeutande, en dit kan byt soos ’n leeuin.
Daarop laat die HERE die wind omslaan in ’n baie sterk westewind; dié het die sprinkane opgetel en hulle in die Skelfsee gedrywe. Daar het nie een sprinkaan in die hele gebied van Egipte oorgebly nie.
Terwyl ek teruggaan, kyk, toe het ek aan die kant van die stroom ’n menigte bome gesien, aan altwee kante. En hy het vir my gesê: Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word. ... En aan die oostekant: tussen Hauran en Damaskus en Gílead en die land van Israel uit—die Jordaan; van dié grens af tot by die Oostelike See moet julle dit meet; dit is die oostekant.
En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees.
Elke plek waar julle voetsool op trap, sal aan julle behoort; van die woestyn en die Líbanon, van die rivier, die Eufraatrivier, tot by die Westelike See sal julle grondgebied wees.
En die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig, sewe maande lank. En al die mense van die land sal begrawe, en dit sal hulle roem wees, die dag as Ek My verheerlik, spreek die Here HERE. Ook sal hulle vaste manne afsonder wat die land deurgaan en die trekkers begrawe wat bo-op die grond oorgebly het, om dit te reinig. Aan die einde van sewe maande sal hulle ’n ondersoek instel, en sien een van hulle wat deur die land trek, ’n mensebeen, dan rig hy daarby ’n merkteken op, totdat die begrawers dit begrawe het in die dal van Gog se menigte. En ook sal die naam van ’n stad wees Hamóna. So sal hulle dan die land reinig.