En as julle sê: Waarvoor het die HERE onse God ons al hierdie dinge aangedoen? antwoord hulle dan: Soos julle My verlaat het en vreemde gode in julle land gedien het, so sal julle vreemdes dien in ’n land wat julle s’n nie is nie.
Nogtans het jy gesê: Ek is tog onskuldig; gewis het sy toorn hom van my afgewend. Kyk, Ek sal met jou na die gereg gaan, omdat jy sê: Ek het nie gesondig nie.
As jy dan in jou hart sê: Waarom het hierdie dinge my oorgekom? Weens die grootheid van jou ongeregtigheid is jou slippe opgetel, het jou hakskene gely onder geweld.
En as jy al hierdie woorde aan hierdie volk bekend maak en hulle jou vra: Waarom het die HERE al hierdie groot onheile oor ons gespreek? En wat is ons ongeregtigheid en ons sonde wat ons teen die HERE onse God begaan het? —
Dan sal baie nasies by hierdie stad verbytrek en die een aan die ander vra: Waarom het die HERE so gedoen met hierdie groot stad? En hulle sal sê: Omdat hulle die verbond van die HERE hulle God verlaat het en voor ander gode hulle neergebuig en dié gedien het.
en al die nasies sal sê: Waarom het die HERE so met hierdie land gedoen? Wat beteken hierdie groot toorngloed? Dan sal hulle antwoord: Omdat hulle die verbond van die HERE, die God van hulle vaders, verlaat het wat Hy met hulle gesluit het toe hulle deur Hom uit Egipteland uitgelei is, en hulle ander gode gaan dien en hulle daarvoor neergebuig het, gode wat aan hulle nie bekend was nie, en wat Hy hulle nie toebedeel het nie, daarom het die toorn van die HERE teen daardie land ontvlam om daaroor die hele vloek te bring wat in hierdie boek geskrywe is. En die HERE het hulle uit hulle land uitgeruk in toorn en in grimmigheid en in groot verbolgenheid; en Hy het hulle weggeslinger na ’n ander land, soos dit vandag is.
En hierdie huis wat so hoog is—elkeen wat daarlangs verbygaan, sal hom verbaas en spot, en hulle sal vra: Waarom het die HERE so gedoen met hierdie land en met hierdie huis? Dan sal hulle sê: Omdat hulle die HERE hul God verlaat het wat hulle vaders uit Egipteland uitgelei het, en ander gode aangehang en daarvoor neergebuig en hulle gedien het—daarom het die HERE al hierdie onheil oor hulle gebring.
En hierdie huis wat so hoog was—elkeen wat daarlangs verbygaan, sal verstom staan en vra: Waarom het die HERE so gedoen met hierdie land en met hierdie huis? Dan sal hulle sê: Omdat hulle die HERE, die God van hulle vaders, verlaat het wat hulle uit Egipteland uitgelei het, en ander gode aangehang en voor hulle neergebuig en hulle gedien het, daarom het Hy al hierdie onheil oor hulle gebring.
Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.
As jy kinders en kindskinders sal verwek en julle in die land verouderd sal wees en verderflik handel deurdat julle ’n gesnede beeld maak, ’n gelykenis van enigiets, en doen wat verkeerd is in die oë van die HERE jou God om Hom te terg, dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word. En die HERE sal julle onder die volke verstrooi, en ’n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die HERE julle sal drywe. En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie.
Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie, sal jy jou vyand wat die HERE teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ’n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het.