Jeremia 22:3
So spreek die HERE: Doen reg en geregtigheid, en red die beroofde uit die hand van die verdrukker; en doen geen skade, geen geweld aan vreemdeling, wees en weduwee nie, en vergiet geen onskuldige bloed in hierdie plek nie.
General
Jeremia 5:28
Hulle het vet, hulle het glad geword; selfs gaan hulle oor die maat van boosheid heen. Reg verskaf hulle nie, selfs die reg van die wees nie, dat hulle voorspoed kan hê; ook handhaaf hulle die reg van die behoeftiges nie.
Jeremia 9:24
maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ’n behae, spreek die HERE.
Jeremia 21:12
o huis van Dawid! So spreek die HERE: Verskaf reg in die môre en red die beroofde uit die hand van die verdrukker, sodat my grimmigheid nie uitgaan en brand soos ’n vuur sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge.
Eksodus 23:6-9
Jy mag die reg van jou arm mense in hulle regsaak nie verdraai nie. Hou jou ver van valse sake af. En moenie die onskuldige en die wat reg het, ombring nie, want Ek sal die skuldige nie regverdig verklaar nie. Ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie; want die geskenk maak die siendes blind en verdraai die sake van die regverdiges. Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ’n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.
Levitikus 19:15
Julle mag geen onreg doen in die gereg nie. Jy mag vir die geringe nie partydig wees nie en die aansienlike nie voortrek nie. Met geregtigheid moet jy oor jou naaste oordeel.
Deuteronómium 16:18-20
REGTERS en opsigters moet jy vir jou aanstel in al jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee volgens jou stamme; en hulle moet die volk oordeel volgens ’n regverdige regspraak. Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het. Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die HERE jou God jou sal gee.
Deuteronómium 25:1
AS daar tussen manne ’n twis is en hulle na die gereg kom en die regters hulle vonnis en die regverdige regverdig verklaar en die skuldige skuldig verklaar,
2 Samuel 23:3
Die God van Israel het gesê, die Rots van Israel het tot my gespreek: ’n Heerser oor mense, ’n regverdige, ’n heerser in die vrees van God,
Job 29:7-17
Toe ek uitgegaan het na die poort, op na die stad toe, op die markplein my sitplek reggemaak het, het die seuns weggekruip as hulle my sien, en grysaards het hulle opgerig en bly staan. Vorste het hulle woorde ingehou en die hand op hul mond gelê. Die stem van edeles is teruggehou, en hulle tong het gekleef aan hul verhemelte. Want het ’n oor net gehoor, dan prys dit my gelukkig; en het ’n oog net gesien, dan gee dit vir my getuienis. Want ek het die ellendige gered wat om hulp geroep het, en die wees en hom wat geen helper het nie. Die seën van hom wat klaar was om onder te gaan, het op my gekom; en die hart van die weduwee het ek laat jubel. Die geregtigheid was my kleed, en ek sy kleed; my reg was soos ’n mantel en ’n tulband. Oë was ek vir die blinde, en voete vir die lamme was ek. ’n Vader was ek vir die behoeftiges; en die regsaak van hom wat ek nie geken het nie, het ek ondersoek. En ek het die tande van die kwaaddoener stukkend gebreek en die buit uit sy gebit geslinger.
Psalms 72:2-4
Laat hy u volk oordeel met geregtigheid en u ellendiges met reg. Die berge sal vrede dra vir die volk, en die heuwels, deur geregtigheid. Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel.
Miga 3:11
Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ’n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die HERE en sê: Is die HERE nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie!
Sagaría 7:9-11
So het die HERE van die leërskare gespreek en gesê: Spreek ’n eerlike vonnis uit en bewys liefde en barmhartigheid die een aan die ander. En moet nie die weduwee en die wees, die vreemdeling en die arme verdruk nie en kwaad in julle hart teenoor mekaar bedink nie. Maar hulle het geweier om te luister en wederstrewig die skouer afgewend en hulle ore toegestop om nie te hoor nie.
General
Deuteronómium 10:18
wat reg verskaf aan die wees en die weduwee, en die vreemdeling liefhet, sodat Hy hom brood en klere gee.
Deuteronómium 24:7
As iemand betrap word wat ’n persoon uit sy broers, uit die kinders van Israel, steel en hom hard behandel en hom verkoop, dan moet dié dief sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
Deuteronómium 27:19
Vervloek is hy wat die reg van vreemdeling, wees en weduwee verdraai; en die hele volk moet sê: Amen.
Job 22:9
Weduwees het jy met leë hande weggestuur, en die arms van die wese is verbrysel.
Job 24:9
Hulle ruk die weeskind van die bors af; en wat die arme aan het, verpand hulle.
Job 29:12
Want ek het die ellendige gered wat om hulp geroep het, en die wees en hom wat geen helper het nie.
Psalms 68:6
’n Vader van die wese en ’n regter van die weduwees is God in sy heilige woning.
Psalms 94:6
Hulle maak die weduwee en die vreemdeling dood en vermoor die wese
Spreuke 23:10
Verlê die ou grenslyne nie, en kom nie op die landerye van die wese nie.
Jesaja 1:23
Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie.
Esegiël 22:7
Hulle het vader en moeder in jou verag, die vreemdeling in jou met geweld behandel, wees en weduwee in jou verdruk.
Maleagi 3:5
En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal ’n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, sê die HERE van die leërskare.
Jakobus 1:27
Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld.
General
Jeremia 22:17
Maar jou oë en jou hart is net op jou onregverdige wins en op onskuldige bloed, om dit te vergiet, en op verdrukking en afpersing, om dit uit te voer.
Jeremia 7:6
vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie —
Jeremia 26:16
Toe sê die vorste en die hele volk aan die priesters en die profete: Hierdie man verdien nie die dood nie, want hy het met ons gespreek in die Naam van die HERE onse God.
Deuteronómium 19:10-13
sodat geen onskuldige bloed vergiet word binne-in jou land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, en bloedskuld op jou kom nie. Maar as iemand sy naaste vyandig is en hom voorlê en teen hom opstaan en hom lewensgevaarlik slaan, sodat hy sterwe, en hy in een van hierdie stede vlug, dan moet die oudstes van sy stad stuur en hom daarvandaan laat haal, en hulle moet hom in die hand van die bloedwreker oorgee, dat hy kan sterwe. Jou oog mag hom nie verskoon nie, maar jy moet die onskuldige bloed uit Israel wegdoen, dat dit met jou goed kan gaan.
2 Konings 24:4
en ook oor die onskuldige bloed wat hy vergiet het, sodat hy Jerusalem met onskuldige bloed gevul het; daarom wou die HERE nie vergewe nie.
Psalms 94:21
Hulle bestorm die lewe van die regverdige en veroordeel onskuldige bloed.
Spreuke 6:17
trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
Jesaja 1:15-20
En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed. Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee. Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.
Joël 3:19
Egipte sal ’n woesteny word, en Edom ’n woeste wildernis wees, weens die geweld wat hulle die kinders van Juda aangedoen het, dat hulle onskuldige bloed in hul land vergiet het.