Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.
WEE die opstandige kinders, spreek die HERE, wat ’n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie; wat ’n verbond sluit, en dit is nie uit my Gees nie, om sonde op sonde te stapel; wat gaan om na Egipte af te trek, en hulle raadpleeg my mond nie, om toevlug te soek onder die beskutting van Farao en om te skuil in die skaduwee van Egipte. Maar die beskutting van Farao sal julle tot skande wees, en die skuiling in die skaduwee van Egipte tot smaadheid. Want hulle vorste is in Soan, en hulle boodskappers het in Hanes aangekom; almal staan beskaamd vanweë die volk wat hulle geen voordeel aanbring nie, geen hulp en geen voordeel nie, maar skande en smaadheid daarby. Godspraak oor die diere van die Suidland. In ’n land van benoudheid en angs, waar leeuin en leeu uitkom, adder en vlieënde draak, vervoer hulle op die rugge van esels hul rykdomme en op die bulte van kamele hul skatte, na ’n volk wat geen voordeel bring nie. En Egipte—nietig en leeg is sy hulp; daarom noem ek dit: Rahab wat stilsit.
WEE hulle wat na Egipte aftrek om hulp en hulle verlaat op perde, en wat vertrou op strydwaens, omdat daar baie is, en op ruiters, omdat hulle baie talryk is, maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die HERE nie. Nogtans is Hy ook wys, en Hy laat die onheil kom en trek sy woorde nie terug nie: Hy sal opstaan teen die huis van die kwaaddoeners en teen die helpers van die wat ongeregtigheid werk. Ja, die Egiptenaars is mense en nie God nie, en hulle perde is vlees en nie gees nie; as die HERE sy hand uitstrek, dan struikel die helper, en wie gehelp is, val; en saam gaan hulle almal te gronde. Want so het die HERE vir my gesê: Soos ’n leeu en ’n jong leeu knor oor sy prooi wanneer die volle getal herders teen hom bymekaargeroep word, sonder dat hy skrik vir hulle stem of ingee vir hulle geraas—só sal die HERE van die leërskare neerdaal om in die stryd uit te trek teen die berg Sion en teen sy heuwel. Soos voëls wat fladder, so sal die HERE van die leërskare Jerusalem beskut, beskut en red, verskoon en bevry. Bekeer julle tot Hom van wie die kinders van Israel diep afgeval het. Want in dié dag sal hulle elkeen sy silwerafgode en sy goue afgode verwerp, wat julle hande vir julle tot sonde gemaak het. En Assur sal val deur die swaard, nie van ’n man nie; en die swaard, nie van ’n mens nie, sal hom verteer; en hy sal voor die swaard vlug, en sy jongmanne sal dienspligtig word; en sy rots sal uitmekaar stuif van skrik, en sy vorste sal verskrik die banier verlaat, spreek die HERE, wat ’n vuur het op Sion en ’n oond in Jerusalem.
Kyk, jy vertrou op dié geknakte rietstok, op Egipte, wat, as iemand daarop leun, in sy hand ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou.
En al die inwoners van Egipte sal weet dat Ek die HERE is, omdat hulle vir die huis van Israel ’n rietstok is — as Israel jou met die hand aanvat, knak jy en skeur hulle hele skouer oop; en as hulle op jou leun, dan breek jy en laat al hulle lendene wankel.
By hom is ’n vleeslike arm, maar by ons is die HERE onse God om ons te help en ons oorloë te voer! En die manskappe het gesteun op die woorde van Jehiskía, die koning van Juda.
Ja, die Egiptenaars is mense en nie God nie, en hulle perde is vlees en nie gees nie; as die HERE sy hand uitstrek, dan struikel die helper, en wie gehelp is, val; en saam gaan hulle almal te gronde.
Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder. Toe het die HERE dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie.
Dan sal die wat uit julle ontvlug het, aan My dink onder die nasies waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, as Ek hulle ontugtige hart wat van My afgewyk het, en hulle oë wat agter hulle drekgode aan hoereer, verbreek het; en hulle sal vir hulself walglik wees weens die slegte dinge wat hulle gedoen het volgens al hulle gruwels.
Die begin van wat die HERE met Hoséa gespreek het; die HERE het aan Hoséa gesê: Gaan heen, neem vir jou ’n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word.