Sekerlik het Ek Efraim hoor weeklaag: U het my getugtig en ek het my laat tugtig soos ’n ongeleerde kalf. Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die HERE my God.
Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.
Wees my genadig, HERE, want ek is verswak; maak my gesond, HERE, want my gebeente is verskrik. ... Keer terug, HERE, red my siel; verlos my om u goedertierenheid ontwil.
Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.
Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges. Ek skep die vrug van die lippe; vrede, vrede vir die wat ver en die wat naby is, sê die HERE; en Ek sal hulle genees.
Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;
En Ek sal jou ’n onneembare kopermuur vir hierdie volk maak; en hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorweldig nie; want Ek is met jou om jou te verlos en om jou te red, spreek die HERE.