Soos in die dae van Noag is dit vir My: soos Ek gesweer het dat die waters van Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou toornig sal wees of jou sal dreig nie.
so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.
En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie.
En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie. En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: my boog gee Ek in die wolke; dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ’n vloed word om alle vlees te verdelg nie. As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is.
So sê die HERE wat die son gee tot ’n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot ’n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis, HERE van die leërskare is sy Naam: As hierdie verordeninge voor my aangesig sal wyk, spreek die HERE, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om ’n volk te wees voor my aangesig vir altyd.
So spreek die HERE: As julle my verbond met die dag en my verbond met die nag kan verbreek, dat daar geen dag of nag op hulle tyd is nie, dan sal ook my verbond met Dawid, my kneg, verbreek kan word, dat daar vir hom geen seun sal wees wat regeer op sy troon nie, en met die Leviete, die priesters, my dienaars. Soos die leër van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat My dien. Verder het die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê: Het jy nie gemerk wat hierdie volk spreek nie as hulle sê: Die twee geslagte wat die HERE uitverkies het, dié het Hy verwerp? En hulle verag my volk, sodat dit geen nasie voor hulle meer is nie. So sê die HERE: As Ek my verbond met dag en nag, die insettinge van hemel en aarde, nie vasgestel het nie, dan sal Ek ook die nageslag van Jakob en van my kneg Dawid verwerp, dat Ek nie uit sy nageslag heersers sal neem oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie; want Ek sal hulle lot verander en My oor hulle ontferm.
Want mense sweer by een wat meer is, en die eed van bevestiging is vir hulle die einde van alle teëspraak. Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ’n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê;