Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie.
Want so het die HERE vir my gesê: Ek wag rustig en aanskou uit my woonplek, soos glinsterende hitte bo die sonlig, soos ’n douwolk in die hitte van die oestyd.
Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans. Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig.
En Hy sê vir my: Mensekind, sien jy wat hulle doen, die groot gruwels wat die huis van Israel hier aanrig, dat Ek ver van my heiligdom af moet weggaan? Maar jy sal nog ander groot gruwels sien.
En die heerlikheid van die God van Israel het opgestyg van die gérub waar dit op was, na die drumpel van die huis toe; en Hy het na die man geroep wat met linne bekleed was, wat die skrywer se inkpot aan sy heupe gehad het. En die HERE sê vir hom: Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem, en maak ’n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word. Maar aan die ander sê Hy voor my ore: Trek agter hom aan deur die stad, en slaan; laat julle oog nie verskoon nie, en moet nie spaar nie; slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by my heiligdom. En hulle het begin by die manne, die oudstes, wat voor die huis was.
En die gérubs het aan die regterkant van die huis gestaan toe die man daar ingaan, en die wolk het die binneste voorhof gevul. Toe het die heerlikheid van die HERE van die gérub af opgestyg oor die drumpel van die huis; en die huis is gevul met die wolk, en die voorhof was vol van die glans van die HERE se heerlikheid. En die geruis van die gérubs se vlerke is gehoor tot in die buitenste voorhof, soos die stem van die almagtige God as Hy spreek. ... En die heerlikheid van die HERE het van die drumpel van die huis af weggetrek en bo die gérubs gaan staan. En die gérubs het hulle vlerke opgehef en voor my oë van die grond af opgestyg toe hulle weggetrek het, en die wiele gelyktydig met hulle saam; en hulle het gaan staan by die ingang van die Oostelike Poort van die huis van die HERE, terwyl die heerlikheid van die God van Israel bo-oor hulle was.
Want Ek is soos ’n leeu vir Efraim, en soos ’n jong leeu vir die huis van Juda; Ek, Ek verskeur en gaan heen, Ek dra weg sonder dat iemand red. Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle My soek.
Want kyk, die HERE gaan uit sy woonplek uit, en Hy daal neer en betree die hoogtes van die aarde. En die berge smelt onder Hom, en die laagtes skeur oop, soos was voor die vuur, soos water wat langs ’n helling afstroom! Dit alles vanweë die oortreding van Jakob en vanweë die sondes van die huis van Israel. Wie is die oorsaak van die oortreding van Jakob? Is dit nie Samaría nie? En wie is die oorsaak van die hoogtes van Juda? Is dit nie Jerusalem nie? Daarom sal Ek Samaría ’n puinhoop maak op die veld, ’n plek om wingerdstokke te plant; en Ek sal haar klippe in die dal laat afrol en haar fondamente blootlê. En al haar gesnede beelde sal stukkend geslaan en al wat sy as hoereloon ontvang het, met vuur verbrand word, en al haar afgode sal Ek tot ’n verwoesting maak; want uit hoereloon het sy dit versamel, en tot hoereloon sal dit terugkeer. Daaroor wil ek rouklaag en huil, kaalvoet en naak loop. Ek wil klae soos die jakkalse en treur soos die volstruise.
en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte, wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind.
En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.
En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af. Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang.
Ook mag julle geen geld aanneem om iemand vry te stel van die vlug na sy vrystad—sodat hy kan teruggaan om in die land te woon—tot op die dood van die hoëpriester nie. En julle mag die land nie ontheilig waar julle in is nie; want die bloed ontheilig die land, en vir die land word geen versoening gedoen vir die bloed wat daarin vergiet is nie, as net deur die bloed van hom wat dit vergiet het.
Want die stad se bloed is binne-in hom; op ’n kaal rots het hy dit neergesit; hy het dit nie op die grond uitgegooi om dit met stof te bedek nie. Om grimmigheid te verwek, om wraak te neem, het Ek sy bloed op ’n kaal rots neergesit, dat dit nie toegemaak sou word nie.
En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ’n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.