GODSPRAAK oor Egipte. Kyk, die HERE ry op ’n vinnige wolk en kom na Egipte toe; en die afgode van Egipte wankel voor sy aangesig, en die hart van Egipte smelt in sy binneste.
GODSPRAAK oor die woestyn van die see. Soos stormwinde in die Suidland deurtrek, kom dit uit die woestyn, uit ’n vreeslike land! ... GODSPRAAK oor Duma. Daar roep een my toe van Seïr af: Wagter, hoe ver is dit in die nag? Wagter, hoe ver in die nag? ... GODSPRAAK teen Arabië. In die bos in Arabië moet julle vernag, karavane van die Dedaniete!
GODSPRAAK oor die dal van die gesig. Wat is dit dan met jou dat jy, jou hele bevolking, op die dakke geklim het, ... In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal die pen padgee wat in ’n vaste plek ingeslaan is: dit word afgebreek en val, en die drag goed wat daaraan hang, raak tot niet, want die HERE het dit gespreek.
GODSPRAAK oor Tirus. Huil, skepe van Tarsis! want dit is verwoes, sodat daar geen huis, geen terugkeer meer is nie. Uit die land van die Kittiërs het dit aan hulle openbaar geword.
As hierdie volk of profeet of priester jou dan vra en sê: Wat het die HERE gelas?—dan moet jy vir hulle sê: Júlle is die las. En Ek sal julle afwerp, spreek die HERE. En wat betref die profeet of die priester of die volk wat sê: Die HERE het gelas—oor dié man en oor sy huis sal Ek besoeking doen. So moet julle sê, elkeen vir sy naaste en elkeen vir sy broer: Wat het die HERE geantwoord? En wat het die HERE gespreek? Maar van: die HERE het gelas—mag julle nie meer melding maak nie; want vir elkeen sal sy eie woord die las wees: dat julle verdraai die woorde van die lewende God, van die HERE van die leërskare, onse God. So moet jy aan die profeet sê: Wat het die HERE jou geantwoord? En wat het die HERE gespreek? Maar as julle sê: Die HERE het gelas—daarom, so spreek die HERE: Omdat julle hierdie woord sê: Die HERE het gelas—alhoewel Ek na julle gestuur het met die woorde: Julle mag nie sê: Die HERE het gelas nie —
GODSPRAAK. Die woord van die HERE teen die land Hadrag, en op Damaskus bly dit rus—want die HERE hou die oog op die mense en op al die stamme van Israel.
GODSPRAAK. Die woord van die HERE oor Israel. Die HERE spreek, wat die hemele uitsprei en die aarde grondves en die gees van die mens in sy binneste formeer:
dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel en sê: Hoe het die drywer nou opgehou, opgehou die verdrukking! Die HERE het die stok van die goddelose verbreek, die staf van die heersers, wat die volke verwoes het in grimmigheid met slaan sonder ophou, wat in toorn oor die nasies geheers het met ’n agtervolging sonder verskoning. Die hele aarde rus, is stil; hulle breek uit in jubel. Ook is die sipresse bly oor jou, die seders van die Líbanon, en hulle sê: Vandat jy daar lê, klim niemand na ons toe op om ons af te kap nie. Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan. Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons geword. Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou is wurms as ’n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking. Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? Die wêreld soos ’n woestyn gemaak en sy stede verwoes het, wat sy gevangenes nie losgelaat het huis toe nie? Al die konings van die nasies, hulle almal rus met eer, elkeen in sy huis; maar jý is gewerp, ver van jou graf, soos ’n afskuwelike uitspruitsel, oordek met die wat verslaan is, wat deurboor is met die swaard, wat neerdaal na die klippe van die grafkuil soos vertrapte aas. Jy word nie met hulle in die graf verenig nie, want jy het jou land verwoes, jou volk gedood; die nageslag van die kwaaddoeners word vir ewig nie genoem nie. Maak ’n slagbank gereed vir sy seuns, om die ongeregtigheid van hulle vaders ontwil, dat hulle nie opstaan en die aarde in besit neem en die bodem van die wêreld vol stede maak nie. So sal Ek dan teen hulle opstaan, spreek die HERE van die leërskare, en van Babel uitroei die naam en die oorblyfsel, kroos en nageslag, spreek die HERE. En Ek sal dit ’n besitting maak van krimpvarkies en tot waterplasse; en Ek sal dit wegvee met die besem van verdelging, spreek die HERE van die leërskare.
GODSPRAAK oor die woestyn van die see. Soos stormwinde in die Suidland deurtrek, kom dit uit die woestyn, uit ’n vreeslike land! ’n Harde gesig is my te kenne gegee: Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Médië! Aan alle gesug maak Ek ’n einde. Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een wat baar; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie sien nie. My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot ’n verskrikking. Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, drink … . Staan op, o vorste, salf die skild! Want so het die Here vir my gesê: Gaan heen, sit ’n wag uit; laat hom te kenne gee wat hy sien; en sien hy ’n stoet ruiters, twee aan twee, ’n stoet esels, ’n stoet kamele, dan moet hy skerp luister, so skerp as hy kan. En hy het geroep soos ’n leeu. Op die wagtoring, Here, staan ek gedurig by dag, en op my wagpos stel ek my al die nagte. En kyk, daar kom ’n stoet manne, ruiters twee aan twee. Toe het hy aangehef en gesê: Geval, geval het Babel, en hulle het al die gesnede beelde van sy gode verbrysel teen die grond. o My vertrapte en gedorste volk, wat ek gehoor het van die HERE van die leërskare, die God van Israel, het ek julle bekend gemaak.
So sê die HERE, jou Losser, die Heilige van Israel: Om julle ontwil het Ek na Babel gestuur, en Ek sal hulle almal as vlugtelinge laat afdaal, naamlik die Chaldeërs, in die skepe waarop hulle gejuig het.
MAAR luister nou, my kneg Jakob, en Israel wat Ek uitverkies het! So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af, wat jou help: Wees nie bevrees nie, Jakob, my kneg, en Jesúrun wat Ek uitverkies het!
KOM af en sit in die stof, jonkvrou, dogter van Babel! Sit op die grond sonder troon, dogter van die Chaldeërs! Want jy sal nie langer genoem word die vertroetelde en verwénde nie. Neem die handmeul en maal meel; slaan jou sluier op, tel die kleed op, ontbloot die been, trek deur die riviere! Laat jou skaamte ontbloot word, ja, jou skande gesien word! Ek sal wraak neem en geen mens verskoon nie. Ons Verlosser—sy Naam is HERE van die leërskare, die Heilige van Israel. Sit doodstil, en gaan in die duisternis, dogter van die Chaldeërs! want jy sal nie langer genoem word gebiedster van die koninkryke nie. Ek was toornig op my volk, Ek het my erfdeel ontheilig en hulle in jou hand oorgegee: jy het hulle geen barmhartigheid bewys nie, op die grysaard het jy jou juk baie swaar laat druk en gesê: Ek sal in ewigheid wees, gebiedster vir altyd; jy het hierdie dinge nie ter harte geneem nie, aan die einde daarvan nie gedink nie. Hoor dan nou dit, wellustige wat so veilig sit, wat in jou hart sê: Dit is ek en niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie. Hierdie twee dinge sal dan in ’n oomblik, op een dag, oor jou kom: kinderloosheid en weduweeskap; in volle maat sal hulle jou oorval, ondanks die veelheid van jou towerye, ondanks die groot menigte van jou besweringe. En jy het op jou boosheid vertrou, jy het gesê: Niemand sien my nie! Jou wysheid en jou kennis het jou verlei, sodat jy in jou hart gesê het: Ek is dit, en niemand anders nie! Daarom oorval ’n onheil jou wat jy nie sal weet om te besweer nie; en ’n onheil val op jou wat jy nie kan versoen nie, en skielik oorval jou ’n verwoesting sonder dat jy dit weet. Tree tog op met jou besweringe en met die menigte van jou towerye waarmee jy jou vermoei het van jou jeug af; miskien kan jy iets uitrig, miskien kan jy skrik aanjaag! Jy het jou vermoei met die menigte van jou planne; laat hulle tog optree en jou red—die wat die hemel indeel, die sterrekykers wat elke maand laat weet wat oor jou sal kom. Kyk, hulle het geword soos stoppels, vuur het hulle verbrand; hulle kan hulself nie red uit die mag van die vlam nie—dit is geen kool om by warm te word nie, geen vuur om daarvoor te sit nie! Dit het jy aan hulle—jou koopmans—met wie jy jou vermoei het van jou jeug af; elkeen dwaal sy eie koers; niemand is daar wat jou red nie.
En as sewentig jaar vol is, sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek die HERE, hulle ongeregtigheid besoek, en oor die land van die Chaldeërs, en sal dit ewige wildernisse maak. En Ek sal oor dié land bring al my woorde wat Ek daaroor gespreek het—alles wat geskrywe is in hierdie boek, wat Jeremia geprofeteer het oor al die nasies. Want hulle sal ook diensbaar gemaak word deur magtige nasies en groot konings, en Ek sal hulle vergelde ooreenkomstig hul dade en die werk van hul hande. Want so het die HERE, die God van Israel, vir my gesê: Neem hierdie beker van die wyn van grimmigheid uit my hand en gee dit om te drink aan al die nasies na wie Ek jou stuur, dat hulle kan drink en waggel en rasend word weens die swaard wat Ek onder hulle stuur. En ek het die beker uit die hand van die HERE geneem en al die volke laat drink na wie die HERE my gestuur het; naamlik Jerusalem en die stede van Juda en sy konings en sy vorste, om hulle te maak ’n puinhoop, ’n voorwerp van verbasing, van bespotting en van vervloeking soos dit vandag is; Farao, die koning van Egipte, en sy dienaars en sy vorste en sy hele volk; en die hele gemengde bevolking en al die konings van die land Us; en al die konings van die land van die Filistyne, en Áskelon en Gasa en Ekron en die oorblyfsel van Asdod; Edom en Moab en die kinders van Ammon; en al die konings van Tirus en al die konings van Sidon en al die konings van die kusland wat oorkant die see is; Dedan en Tema en Bus en almal wat die rand van hulle hare wegskeer; en al die konings van Arabië en al die konings van die gemengde bevolking wat in die woestyn woon; en al die konings van Simri en al die konings van Elam en al die konings van Médië; en al die konings van die Noorde wat naby en ver is, die een ná die ander; ja, al die koninkryke van die aarde wat op die aardbodem is. En die koning van Sesag sal ná hulle drink.
DIE woord wat die HERE deur die profeet Jeremia gespreek het oor Babel, oor die land van die Chaldeërs. Verkondig onder die nasies en laat hoor, en steek ’n banier op, laat hoor; verberg dit nie; sê: Babel is ingeneem, Bel staan beskaamd, Meródag is verskrik; sy afgode staan beskaamd, sy drekgode is verskrik. Want ’n volk trek teen hom op uit die Noorde; dit sal sy land ’n woesteny maak, sodat daar geen inwoner in is nie; mense sowel as diere het gevlug, weggetrek. In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die kinders van Israel kom, hulle met die kinders van Juda saam; onder geween sal hulle voorttrek en die HERE hulle God soek. Hulle sal na Sion vra; op die pad hierheen sal hulle aangesig gerig wees; hulle sal kom en by die HERE aansluit in ’n ewige verbond wat nie vergeet sal word nie. ’n Kudde verlore skape was my volk; hulle herders het hulle laat dwaal, hulle weggevoer na die berge toe; hulle het gegaan van berg na heuwel, hulle het hul lêplek vergeet. Almal wat hulle kry, het hulle opgeëet; en hulle teëstanders het gesê: Ons maak ons nie skuldig nie, omdat hulle gesondig het teen die HERE, die Woning van geregtigheid en die Verwagting van hulle vaders, die HERE. Vlug uit Babel, en gaan uit die land van die Chaldeërs, en wees soos bokke voor die trop kleinvee uit! Want kyk, Ek verwek en laat teen Babel optrek ’n menigte van groot nasies uit die Noordland; dié sal hulle teen hom opstel—daarvandaan sal hy ingeneem word; hulle pyle sal wees soos dié van ’n voorspoedige held wat nie met leë hande terugkom nie. En Chaldéa sal ’n buit word; almal wat hom beroof, sal versadig word; spreek die HERE. Al is julle verheug, al jubel julle, plunderaars van my erfenis, al huppel julle soos ’n vers wat graan dors, en runnik julle soos die hingste — julle moeder staan grootliks beskaamd; sy wat julle gebaar het, is rooi van skaamte. Kyk, sy is die agterste van die nasies, ’n woestyn, ’n dor land en ’n wildernis. Weens die toorn van die HERE sal dit nie bewoon word nie, maar geheel en al ’n wildernis wees; elkeen wat by Babel verbygaan, sal verbaas wees en spot oor al sy plae. Stel julle op teen Babel rondom, julle almal wat die boog span! Beskiet hom, spaar die pyle nie! Want hy het teen die HERE gesondig. Juig oor hom rondom—hy het hom oorgegee, sy pilare het geval, sy mure is afgebreek; want dit is die wraak van die HERE; wreek julle op hom, doen aan hom soos hy gedoen het! Roei uit Babel uit die saaier en die wat die sekel hanteer in die oestyd; laat hulle vanweë die verdrukkende swaard elkeen na sy volk omdraai en elkeen na sy land vlug! Israel is ’n rondgejaagde skaap wat die leeus weggedrywe het; eers het die koning van Assur hom opgeëet, en nou ten laaste het Nebukadrésar, die koning van Babel, sy gebeente afgeknaag. Daarom, so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek doen besoeking oor die koning van Babel en oor sy land, soos Ek besoeking gedoen het oor die koning van Assur. En Ek sal Israel na sy weiveld terugbring, en hy sal wei op Karmel en in Basan; en sy siel sal op die gebergte van Efraim en in Gílead versadig word. In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die ongeregtigheid van Israel gesoek word, maar dit sal daar nie wees nie; en die sondes van Juda, maar hulle sal nie gevind word nie; want Ek sal vergifnis skenk aan diegene wat Ek laat oorbly. Teen die land Meratáim, trek daarteen op en teen die inwoners van Pekod! Verwoes en tref met die banvloek agter hulle, spreek die HERE, en doen net soos Ek jou beveel het. Daar is oorlogsgeskreeu in die land en ’n groot verbreking. Hoe is die hamer van die hele aarde afgekap en verbreek! Hoe het Babel geword ’n voorwerp van verbasing onder die nasies! Ek het vir jou ’n strik gespan, en jy is ook gevang, o Babel, sonder dat jy dit geweet het; jy is betrap en ook gegryp, omdat jy jou teen die HERE in die stryd begeef het. Die HERE het sy skatkamer oopgemaak en die werktuie van sy grimmigheid uitgebring; want ’n werk is dit wat die Here HERE van die leërskare te doen het in die land van die Chaldeërs. Kom aan teen hom van alle kante, maak oop sy voorraadskure, stapel hom op soos koringmiede, en tref hom met die banvloek! Hy moet geen oorblyfsel hê nie. Slaan dood al sy jong stiere, laat hulle afgaan om geslag te word. Wee hulle, want hulle dag het gekom, die tyd van hulle besoeking. Hoor! Vlugtelinge en mense wat vrygeraak het uit die land van Babel, om in Sion te verkondig die wraak van die HERE onse God, die wraak van sy tempel. Roep teen Babel skutters op, almal wat die boog span; slaan laer op rondom teen hom, laat daar geen ontkoming wees nie! Vergeld hom na sy werk, doen met hom net soos hy gedoen het, want hy was vermetel teen die HERE, teen die Heilige van Israel. Daarom sal sy jongmanne val op sy pleine en al sy krygsmanne in dié dag omkom, spreek die HERE. Kyk, Ek het dit teen jou, o vermetele, spreek die Here HERE van die leërskare; want jou dag het gekom, die tyd dat Ek oor jou besoeking sal doen. Dan sal die vermetele struikel en val, en daar sal niemand wees wat hom optel nie; en Ek sal ’n vuur aansteek in sy stede, en dit sal sy hele omgewing verteer. So sê die HERE van die leërskare: Die kinders van Israel en die kinders van Juda is saam verdruk; en almal wat hulle as gevangenes weggevoer het, hou hulle vas, weier om hulle te laat trek. Maar hulle Verlosser is sterk, HERE van die leërskare is sy Naam; Hy sal hulle saak sekerlik verdedig, om die aarde rus te gee en die inwoners van Babel in onrus te bring. Die swaard oor die Chaldeërs, spreek die HERE, en oor die inwoners van Babel en oor sy vorste en oor sy wyse manne! Die swaard oor die grootpraters, dat hulle dwaas kan word! Die swaard oor sy helde, dat hulle verskrik kan word! Die swaard oor sy perde en sy strydwaens en oor die hele gemengde bevolking wat daar binne-in is, dat hulle vroue kan word! Die swaard oor sy skatte, dat hulle geplunder kan word! Droogte oor sy waters, dat hulle kan uitdroog! Want dit is ’n land van gesnede beelde, en deur die skrikgestaltes is hulle waansinnig. Daarom sal daar boskatte saam met wildehonde bly; ook sal daar volstruise in bly; ’n mens sal daar in ewigheid nie meer bly nie, en dit sal nie bewoon word van geslag tot geslag nie. Soos God Sodom en Gomorra met hulle bure omgekeer het, spreek die HERE, sal daar niemand woon nie, en geen mensekind daar vertoef nie. Kyk, daar kom ’n volk uit die Noorde, en ’n groot nasie en magtige konings word opgewek uit die agterhoeke van die aarde. Boog en lans hanteer hulle; hulle is wreed en sonder barmhartigheid; hulle geluid bruis soos die see, en hulle ry op perde, gewapend soos ’n man vir die oorlog, teen jou, o dogter van Babel! Die koning van Babel het die gerug van hulle gehoor, en sy hande het slap geword; benoudheid het hom aangegryp, smart soos van een wat baar. Kyk, soos ’n leeu uit die pronkbosse van die Jordaan sal daar een optrek teen die vaste woning; want in ’n oomblik sal Ek hulle daaruit wegjaag, en hom wat uitgekies is, sal Ek daaroor aanstel. Want wie is soos Ek? En wie sal My dagvaar? En wie is tog ’n herder wat voor my aangesig kan standhou? Daarom, hoor die raadsbesluit van die HERE wat Hy teen Babel geneem en sy planne wat Hy teen die land van die Chaldeërs beraam het: Waarlik, die kleinstes van die kudde sal weggesleep word; waarlik, hulle weiveld sal oor hulle verslae wees. Van die tyding: Babel is ingeneem! bewe die aarde, en geskreeu word onder die nasies gehoor.
perés—u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee. Toe het Bélsasar bevel gegee, en hulle het Daniël met purper beklee, met ’n goue ketting om sy hals, en aangaande hom openlik uitgeroep dat hy as derde in rang in die koninkryk sou heers. In dieselfde nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood. EN Daríus, die Meder, was twee-en-sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het.
EN een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. En hy het my in die gees weggevoer na ’n woestyn, en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien. Toe sê die engel vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra. Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is. Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly. En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf. En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin — want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings — en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou. En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale. En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woord van God volbring is. En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.
DIE gesig van Jesaja, die seun van Amos, wat hy gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem, in die dae van Ussía, Jotam, Agas en Hiskía, die konings van Juda.