Maar hy het dit vir hom te gering geag om die hand aan Mórdegai alleen te slaan; want hulle het hom die volk van Mórdegai te kenne gegee. Daarom het Haman daarna gesoek om al die Jode wat in die hele koninkryk van Ahasvéros was, die volk van Mórdegai, te verdelg. In die eerste maand, dit is die maand Nisan, in die twaalfde jaar van koning Ahasvéros, het hulle die Pur, dit is die lot, voor Haman gewerp vir elke dag en vir elke maand, twaalf in getal, dit is die maand Adar.
Ruk my nie weg saam met die goddelose en saam met die werkers van ongeregtigheid nie; wat van vrede spreek met hulle naaste, maar daar is kwaad in hulle hart.
om in skuilplekke na die opregte te skiet; skielik skiet hulle hom en vrees nie. ’n Listige plan stel hulle vir hul vas; hulle spreek af om strikke te span; hulle sê: Wie sal dit sien? Hulle versin ongeregtighede: Ons is gereed! ’n Fyn uitgedinkte plan! Ja, ’n man se binneste en onpeilbare hart!
Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat ’n regstryd voer in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite gaan hulle swanger en baar onheil.
Na die kwaad gaan die hande uit, om dit dapper te doen. Die vors eis, en die regter vra betaling, en die groot man spreek die begeerte van sy siel uit, en hulle verdraai dit alles.
Toe kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge van die volk bymekaar in die paleis van die hoëpriester wat Kájafas genoem word, en hou saam raad om Jesus met lis gevange te neem en om die lewe te bring.
Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?