JOU naaste se grenslyn, deur die voorvaders getrek in jou erfdeel wat jy sal erwe in die land wat die HERE jou God jou sal gee om dit in besit te neem, mag jy nie verlê nie.
Die esel van die wese dryf hulle weg, die bees van die weduwee neem hulle as pand. ... Hulle ruk die weeskind van die bors af; en wat die arme aan het, verpand hulle.
as ek my hand teen ’n wees beweeg het, omdat ek in die poort vir my hulp gesien het — laat dan my skouer uit sy gewrig val en my arm van sy pyp afgebreek word. Want die ondergang wat God bewerk, was ’n skrik vir my; en weens sy hoogheid was ek onmagtig.
So spreek die HERE: Doen reg en geregtigheid, en red die beroofde uit die hand van die verdrukker; en doen geen skade, geen geweld aan vreemdeling, wees en weduwee nie, en vergiet geen onskuldige bloed in hierdie plek nie.
En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal ’n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, sê die HERE van die leërskare.
Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld.