Spreuke 19:21
Baie planne is in ’n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan.
Baie planne
Spreuke 12:2
Die goeie verkry ’n welbehae van die HERE, maar Hy veroordeel ’n slinkse man.
Genesis 37:19-20
En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan! Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: ’n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.
Ester 9:25
Maar toe dit voor die koning kom, het hy skriftelik bevel gegee dat sy goddelose plan wat hy teen die Jode uitgedink het, op sy eie hoof moes neerkom; en hulle het hom en sy seuns aan die galg opgehang.
Psalms 21:12
Want hulle het U met onheil bedreig; hulle het ’n listige plan uitgedink sonder om iets uit te rig.
Psalms 33:10-11
Die HERE vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke. Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.
Psalms 83:5
Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.
Prediker 7:29
Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.
Jesaja 7:6-7
Laat ons optrek teen Juda en dit skrik aanjaag en dit vir ons verower en die seun van Tábeal daaroor koning maak. So sê die Here HERE: Dit sal nie tot stand kom nie, en dit sal nie gebeur nie.
Daniël 11:24-25
Onverwags en in die vetste dele van die provinsie sal hy inkom, en hy sal doen wat sy vaders en sy grootvaders nie gedoen het nie: roof en buit en goed sal hy onder hulle uitstrooi en teen vestings planne beraam, maar net vir ’n tyd. En hy sal sy krag en sy hart opwek teen die koning van die Suide met ’n groot leër; en die koning van die Suide sal hom in die oorlog begewe met ’n groot en baie sterk leër, maar hy sal nie standhou nie, want hulle sal planne teen hom beraam.
Mattheüs 26:4-5
en hou saam raad om Jesus met lis gevange te neem en om die lewe te bring. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.
Mattheüs 27:63-64
en sê: My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan Ek op. Gee dan bevel dat die graf verseker word tot die derde dag toe, dat sy dissipels nie miskien in die nag kom en Hom steel nie, en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode. En die laaste dwaling sal erger wees as die eerste.
raad van die HERE
Spreuke 16:1, 9
DIE planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die HERE. ... Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die HERE rig sy voetstappe.
Spreuke 21:1, 30
DIE koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil. ... Daar is geen wysheid, en daar is geen verstand, en daar is geen raad teenoor die HERE nie.
Genesis 45:4-8
Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ’n groot verlossing. Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ’n raadsman van Farao gemaak en ’n gebieder oor sy hele huis en ’n regeerder in die hele Egipteland.
Genesis 50:20
Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ’n groot volk in die lewe te hou.
Job 23:13
MAAR Hy bly onveranderlik Een—wie sal Hom dan teëhou? En wat sy siel begeer, dit doen Hy.
Jesaja 14:24, 26-27
DIE HERE van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand: ... Dit is die besluit wat geneem is oor die hele aarde, en dit is die hand wat uitgestrek is oor al die nasies; want die HERE van die leërskare het dit besluit—wie sal dit kan verydel? En sy hand is uitgestrek—wie sal dit kan afkeer?
Jesaja 46:10
wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;
Daniël 4:35
En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?
Handelinge 4:27-28
Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.
Handelinge 5:38-39
En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie — dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.
Efésiërs 1:11
in Hom in wie ons ook ’n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
Hebreërs 6:17-18
Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ’n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê;
1 Petrus 2:8
vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.
Judas 1:4
Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.