En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en ’n swaar wolk op die berg en die geluid van ’n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het. Daarop het Moses die volk uit die laer gelei om God te ontmoet, en hulle het gaan staan by die voet van die berg. En die hele berg Sinai het gerook, omdat die HERE in ’n vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van ’n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe.
Daarop het Jesus weer met ’n groot stem geroep en die gees gegee. En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;
En daar kom ’n groot aardbewing, want ’n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit. En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu.
En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy tempel gesien, en daar was weerligte en stemme en donderslae en aardbewing en groot hael.
TOE het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.