Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie — nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
Jubel, o dogter van Sion, juig, o Israel! Verheug jou en jubel van ganser harte, o dogter van Jerusalem! Die HERE het jou oordele opgehef, jou vyand weggeveeg; die koning van Israel, die HERE is by jou, jy sal geen kwaad meer vrees nie. In dié dag sal aan Jerusalem gesê word: Vrees nie, o Sion, laat jou hande nie slap hang nie! Die HERE jou God is by jou, ’n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.
IS U dan nie uit die voortyd nie, o HERE, my God, my Heilige? Ons sal nie sterwe nie. HERE, tot ’n strafoordeel het U hom bestel en, o Rots, tot ’n tugroede het U hom bestem! U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie—waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy?