Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge; mag die vrug daarvan ruis soos die Líbanon; en mag hulle bloei uit die stad soos die plante van die aarde!
Dan sal Hy reën gee vir die saad waarmee jy die grond besaai, en broodkoring wat die grond voortbring, en dit sal smaaklik en voedsaam wees; jou vee sal in dié dag wei op ’n uitgestrekte weiveld;
totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn ’n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir ’n bos gereken. ... Welgeluksalig is julle wat by alle waters saai, wat die voet van os en esel vry laat loop!
N ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ’n mosterdsaad wat ’n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ’n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke. ’n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ’n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.
En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.
Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei. Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. WANT ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.
NÁ hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande;
En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.
Die regverdige sal groei soos ’n palmboom; hy sal opgroei soos ’n seder op die Líbanon. Geplant in die huis van die HERE, sal hulle groei in die voorhowe van onse God. In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees,
dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Líbanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God.
Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ’n lelie en sy wortels uitslaan soos die Líbanon. Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van ’n olyfboom en sy geur soos die Líbanon. Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok; die roem daarvan sal wees soos die wyn van die Líbanon.
Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge. En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope. Die een sal sê: Ek behoort aan die HERE; en die ander sal die naam van Jakob uitroep; en die ander sal met sy hand skrywe: Ek behoort aan die HERE, en hom met die erenaam Israel noem.
Soos die leër van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat My dien.
En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.