Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ’n skild en pantser. Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand—na jou sal dit nie aankom nie.
So moet jy vir hom sê: So spreek die HERE: Kyk, wat Ek gebou het, breek Ek self af; en wat Ek geplant het, ruk Ek self uit; en dit betref die hele aarde. En sou jý vir jou groot dinge soek? Soek dit nie; want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees, spreek die HERE; maar Ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan.
’N BEDEVAARTSLIED. Welgeluksalig is elkeen wat die HERE vrees, wat in sy weë wandel! Die opbrings van jou hande sal jy sekerlik eet; gelukkig is jy, en dit gaan met jou goed! Jou vrou is soos ’n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel. Kyk, so sal sekerlik geseën word die man wat die HERE vrees. Mag die HERE jou seën uit Sion, dat jy die voorspoed van Jerusalem mag aanskou al die dae van jou lewe! En dat jy jou kindskinders mag aanskou! Vrede oor Israel!
Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.
Sade. Die goddelose loer op die regverdige en soek om hom dood te maak. Die HERE gee hom nie oor in sy hand nie, en Hy veroordeel hom nie as hy gerig word nie.
HERE, gee tog nie die begeertes van die goddelose nie; laat sy listige plan nie geluk, sodat hulle hul verhef nie. Sela. Wat betref die hoof van die wat my omring—laat die onheil van hulle lippe hulle oordek.