Psalms 33:16
’n Koning word nie verlos deur ’n groot leër, ’n held nie gered deur groot krag nie.
General
Psalms 44:4,7-8
Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie, en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig, omdat U ’n welbehae in hulle gehad het. ... Want ek vertrou nie op my boog nie, en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie; maar U het ons verlos van ons teëstanders en ons haters beskaamd gemaak.
Eksodus 14:17-18,28
En Ek, kyk, Ek sal die hart van die Egiptenaars verhard, sodat hulle agter hulle aan gaan. En Ek wil My verheerlik aan Farao en sy hele leërmag, aan sy strydwaens en aan sy ruiters. En die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is, as Ek My verheerlik aan Farao, aan sy strydwaens en aan sy ruiters. ... En toe die waters terugvloei, het hulle die strydwaens en die ruiters van Farao se hele leërmag wat agter hulle die see ingetrek het, oordek. Geeneen van hulle het oorgebly nie.
Josua 11:4-8
Hulle het dan uitgetrek en al hulle leërs saam met hulle, ’n volk talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte, met ’n groot getal perde en strydwaens; en al hierdie konings het volgens afspraak byeengekom en saam laer opgeslaan by die waters van Merom, om met Israel oorlog te voer. Toe sê die HERE vir Josua: Wees vir hulle nie bevrees nie; want môre omtrent sulke tyd sal Ek hulle, almal verslaan, aan Israel oorgee; hulle perde se hakskeensenings moet jy afsny en hulle waens met vuur verbrand. En Josua met al die weerbare manskappe by hom het skielik op hulle afgekom by die waters van Merom en hulle oorval. En die HERE het hulle in die hand van Israel gegee, sodat dié hulle verslaan en hulle agtervolg het tot by Groot-Sidon en tot by Mísrefot-Maim en tot by die laagte van Mispe teen die ooste; en hulle het hul verslaan totdat daar niemand van hulle was wat vrygeraak het nie.
Rigters 7:2,12-25
Toe sê die HERE vir Gídeon: Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê: My eie hand het my verlos. ... En die Midianiete en Amalekiete en al die kinders van die Ooste het in die laagte gelê soos sprinkane in menigte, en hulle kamele was ontelbaar soos die sand aan die seestrand in menigte. En toe Gídeon aankom, vertel ’n man aan ’n ander juis ’n droom en sê: Kyk, ek het ’n droom gehad: Daar rol ’n hard gebakte garsbrood in die laer van die Midianiete en kom tot by die tent en slaan dit dat dit omval en keer dit onderstebo, en toe lê die tent daar! En die ander een het geantwoord en gesê: Dit is niks anders nie as die swaard van Gídeon, die seun van Joas, die Israeliet; God het die Midianiete en die hele laer in sy hand gegee. Toe Gídeon dan die verhaal van die droom en sy uitlegging hoor, het hy aanbid; en hy het teruggekeer na die laer van Israel en gesê: Maak klaar, want die HERE gee die laer van die Midianiete in julle hand. En hy het die driehonderd man verdeel in drie dele en aan hulle almal ramshorings en leë kruike, met fakkels binne-in die kruike, in die hand gegee en aan hulle gesê: Kyk na my en maak net so; en kyk, as ek by die buitenste lyn van die laer kom, dan moet julle maak net soos ek maak. En as ek en almal wat by my is, op die ramshoring blaas, moet julle ook op die ramshorings blaas rondom die hele laer, en julle moet sê: Vir die HERE en vir Gídeon! Toe kom Gídeon en die honderd man wat by hom was, by die buitenste lyn van die laer, met die begin van die middelste nagwaak toe hulle skaars die wagte uitgesit het, en hulle blaas op die ramshorings en slaan die kruike stukkend wat hulle in hul hand gehad het. Toe blaas die drie dele op die ramshorings en breek die kruike en hou met hulle linkerhand die fakkels en met hulle regterhand die ramshorings om te blaas, terwyl hulle uitroep: Die swaard van die HERE en van Gídeon! En hulle het bly staan elkeen op sy plek, rondom die laer. Daarop hardloop die hele laer, en hulle skreeu en vlug. En toe die driehonderd op die ramshorings blaas, het die HERE die swaard van die een teen die ander gerig, ja, in die hele laer; en die laer het gevlug na Bet-Sitta, na Seréda toe, tot by die oewer van Abel-Mehóla by Tabbat. En die manskappe van Israel uit Náftali en uit Aser en uit die hele Manasse is opgeroep, en hulle het die Midianiete agternagejaag. Ook het Gídeon boodskappers gestuur in die hele gebergte van Efraim om te sê: Trek af die Midianiete tegemoet, en sny hulle van die waters af tot by Bet-Bara en die Jordaan. So het dan al die manskappe van Efraim bymekaargekom en die waters beset tot by Bet-Bara en die Jordaan. En hulle het twee vorste van die Midianiete gevang, Oreb en Seëb; en Oreb het hulle gedood by die rots Oreb, en Seëb gedood by die parskuip Seëb, en hulle het die Midianiete agtervolg; en die hoof van Oreb en van Seëb het hulle na Gídeon gebring, oorkant die Jordaan.
1 Samuel 14:8-16
Daarop sê Jónatan: Kyk, ons sal na die manne toe oorgaan en ons aan hulle vertoon. As hulle vir ons só sê: Staan stil totdat ons by julle kom! dan moet ons op ons plek bly staan en nie na hulle opklim nie. Maar as hulle só sê: Kom op na ons toe! dan klim ons op, want dan het die HERE hulle in ons hand gegee; en dit sal vir ons die teken wees. Toe hulle twee hul aan die wagpos van die Filistyne vertoon, sê die Filistyne: Kyk, daar kom Hebreërs uit die gate uit waar hulle weggekruip het. En die manne van die wagpos het Jónatan en sy wapendraer aangespreek en gesê: Klim op na ons toe, dan sal ons julle ’n les leer! Daarop sê Jónatan aan sy wapendraer: Klim op agter my aan, want die HERE het hulle in die hand van Israel gegee. En Jónatan het op sy hande en voete uitgeklim, en sy wapendraer agter hom aan; en hulle het voor Jónatan geval terwyl sy wapendraer agter hom aan van kant maak. Hierdie eerste slag waarin Jónatan en sy wapendraer ongeveer twintig man verslaan het, het plaasgevind op omtrent die helfte van ’n aanvoorsel van ’n stuk land. Toe kom daar ’n skrik in die laer, in die veld en onder al die manskappe; die wagpos en die roofkommando, hulle het ook geskrik, ja, die land het gebewe, sodat dit ’n skrik van God geword het. En toe die spioene van Saul in Gíbea in Benjamin sien dat die menigte daar verward heen en weer golf,
1 Konings 20:10,27-29
Daarop laat Bénhadad hom weet: Mag die gode so aan my doen en so daaraan toedoen—die puin van Samaría is nie genoeg vir die holle hande van al die manskappe wat my voetstappe volg nie! ... Die kinders van Israel is ook gemonster en van lewensmiddele voorsien, en het hulle tegemoetgetrek; en die kinders van Israel het teenoor hulle laer opgeslaan soos twee klompies bokke, terwyl die land vol Arameërs was. Toe kom die man van God nader en sê aan die koning van Israel: So spreek die HERE: Omdat die Arameërs gesê het: Die HERE is ’n god van die berge, en Hy is nie ’n god van die laagtes nie—daarom sal Ek hierdie hele groot menigte in jou hand gee, dat julle kan weet dat Ek die HERE is. En hulle was sewe dae lank teenoor mekaar gelaer; maar op die sewende dag het die geveg begin, en die kinders van Israel het van die Arameërs honderdduisend voetgangers op een dag verslaan.
2 Kronieke 14:9-13
En Serag, die Kusiet, het teen hulle uitgetrek met ’n leër van ’n miljoen met driehonderd strydwaens; en hy het gekom tot by Marésa. Toe trek Asa uit hom tegemoet, en hulle het die slagorde opgestel in die dal Sefáta by Marésa. En Asa het die HERE sy God aangeroep en gesê: HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, HERE onse God, want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom; HERE, U is onse God; laat geen sterfling naas U magtig wees nie. En die HERE het die Kusiete voor Asa en Juda verslaan, en die Kusiete het gevlug. En Asa en die manskappe wat by hom was, het hulle agtervolg tot by Gerar; en van die Kusiete het soveel geval, dat daar vir hulle geen herstel moontlik was nie; want hulle was gebreek voor die aangesig van die HERE en voor sy leër. En hulle het ’n baie groot buit geneem;
2 Kronieke 20:12,23
Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U. ... Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp.
2 Kronieke 32:8-9,21
By hom is ’n vleeslike arm, maar by ons is die HERE onse God om ons te help en ons oorloë te voer! En die manskappe het gesteun op die woorde van Jehiskía, die koning van Juda. Hierna het Sánherib, die koning van Assirië—hy self en sy hele ryksmag was saam met hom by Lagis—sy dienaars na Jerusalem gestuur, na Jehiskía, die koning van Juda, en na die hele Juda wat in Jerusalem was, om te sê: ... stuur die HERE ’n engel, en dié het al die dapper helde en bevelhebbers en owerstes in die laer van die koning van Assirië verdelg, sodat hy met ’n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan het; en toe hy in die huis van sy god kom, het die wat uit sy eie liggaam voortgekom het, hom daar met die swaard neergeslaan.
General
Josua 14:12
Gee my dan nou hierdie bergland waarvan die HERE daardie dag gespreek het; want u self het dié dag gehoor dat dáár Enakiete is en groot versterkte stede; miskien sal die HERE met my wees, sodat ek hulle kan verdrywe, soos die HERE gespreek het.
1 Samuel 17:4,45-49
Toe kom daar ’n baasvegter uit die laers van die Filistyne, met die naam van Góliat, uit Gat; sy hoogte was ses el en ’n span. ... Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ’n God het. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee. Toe die Filistyn hom dan klaarmaak en aldeur nader kom om Dawid te ontmoet, loop Dawid gou na die vegterrein om die Filistyn te ontmoet; en Dawid steek sy hand in die tas en neem ’n klip daaruit en slinger, en hy tref die Filistyn in sy voorhoof, sodat die klip in sy voorhoof indring en hy op sy gesig teen die grond val.
2 Samuel 21:16-22
En Jisbi-Benob wat uit die kinders van die Refaïete was—die gewig van sy spies was driehonderd sikkels koper in gewig, en hy was omgord met ’n nuwe swaard—het gedink om Dawid te verslaan. Maar Abísai, die seun van Serúja, het hom gehelp en die Filistyn verslaan en hom gedood. Toe het die manne van Dawid hom besweer en gesê: U mag nie meer saam met ons uittrek na die geveg nie, dat u die lamp van Israel nie uitblus nie. En daarna was daar weer oorlog met die Filistyne in Gob. Toe het Síbbegai, die Husatiet, Saf, uit die kinders van die Refaïete, verslaan. En daar was weer oorlog met die Filistyne in Gob; en Élhanan, die seun van Jáäre-Orgim uit Betlehem, het Góliat, die Gittiet, wie se spiessteel soos ’n wewersbalk was, verslaan. En daar was weer oorlog in Gat; en daar was ’n baie lang man, met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, vier-en-twintig in getal, en hy was ook ’n afstammeling van die Refaïete. En hy het Israel gehoon, maar Jónatan, die seun van Símea, die broer van Dawid, het hom verslaan. Hierdie vier was afstammelinge van die Refaïete in Gat, en hulle het geval deur die hand van Dawid en deur die hand van sy dienaars.
Jeremia 9:23
So sê die HERE: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie;