Geloofd sy die HERE, want Hy het sy goedertierenheid aan my wonderbaar gemaak, in ’n vaste stad. Ek tog het in my angs gesê: Ek het verdwyn, weg van u oë; nogtans het U die stem van my smekinge gehoor toe ek U aangeroep het om hulp.
Waarlik, God het gehoor; Hy het geluister na die stem van my gebed. Geloofd sy God wat my gebed nie afgewys en sy goedertierenheid aan my nie onttrek het nie!
Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red. Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders; en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.