Want doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die dag af dat God mense op die aarde geskape het, en van die een einde van die hemel tot by die ander einde van die hemel, of so iets groots gebeur het of iets dergeliks gehoor is. Het ’n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jý gehoor het, en in die lewe gebly? Of het ’n god probeer om vir hom ’n nasie uit ’n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het?
LAAT my tog sing van my Beminde; ’n lied van my Beminde oor sy wingerd! My Beminde het ’n wingerd op ’n vrugbare heuwel. En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het ’n toring daar binne-in gebou en ook ’n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring. Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en my wingerd. Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring? Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit ’n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie. Want die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu!
LUISTER na ’n ander gelykenis: Daar was ’n sekere huisheer wat ’n wingerd geplant het; en hy het ’n heining daarom gesit en ’n parskuip daarin gegrawe en ’n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ’n ander een doodgemaak en ’n ander een gestenig. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak. Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen? Hulle antwoord Hom: Die slegte mense — hy sal hulle ’n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee.
om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ’n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang. ... Glo u die profete, koning Agríppa? Ek weet dat u glo.
WAT is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is.
dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.
Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.