Maar Jakob het alleen agtergebly, en ’n Man het met hom geworstel tot dagbreek. En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën.
En laat ons ken—laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.
Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte. ... U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer.