Waarom bly die goddelose lewe, word hulle oud, ja, neem hulle toe in krag? Hulle nakomelinge bestaan voor hulle, in hul gemeenskap, en hul spruite voor hulle oë. Hul huise het vrede, sonder skrik; en die roede van God is op hulle nie. ... dat die kwaaddoeners gespaar word op die dag van ondergang, dat hulle weggelei word op die dag van grimmigheid?
Maar U, o God, sal hulle laat neerdaal in die put van vernietiging; manne van bloed en bedrog sal hulle dae nie tot op die helfte bring nie; maar ék vertrou op U.
REGVERDIG is U, o HERE, as ek met U sou twis. Tog wil ek oor regsake met U spreek: Waarom is die weg van die goddelose voorspoedig? Waarom lewe hulle rustig, almal wat ontrou bedrywe? U het hulle geplant, ook het hulle wortel geskiet; hulle groei, ook dra hulle vrugte. U is naby in hulle mond, maar ver van hulle niere.
Want ek het die ellendige gered wat om hulp geroep het, en die wees en hom wat geen helper het nie. Die seën van hom wat klaar was om onder te gaan, het op my gekom; en die hart van die weduwee het ek laat jubel. Die geregtigheid was my kleed, en ek sy kleed; my reg was soos ’n mantel en ’n tulband. Oë was ek vir die blinde, en voete vir die lamme was ek. ’n Vader was ek vir die behoeftiges; en die regsaak van hom wat ek nie geken het nie, het ek ondersoek. En ek het die tande van die kwaaddoener stukkend gebreek en die buit uit sy gebit geslinger.
U het dit gesien; want U aanskou die moeite en verdriet, sodat ’n mens dit in u hand sal gee. Aan U gee die ongelukkige dit oor; U was ’n helper van die wees. Verbreek die arm van die goddelose en slegte; besoek sy goddeloosheid totdat U niks vind nie!
Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel. ... Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
’N PSALM van Asaf. God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode. Hoe lank sal julle onregverdig oordeel en partydig wees vir die goddelose mense? Sela. Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg. Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense.
Beroof die arme nie, omdat hy arm is, en verbrysel die ellendige nie in die poort nie. Want die HERE sal hulle saak verdedig en hulle berowers van die lewe berowe.
maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak.
Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie. As jy hulle op enige manier verdruk, waarlik, dan sal Ek, as hulle na My roep, hulle geroep sekerlik hoor, en my toorn sal ontvlam, en Ek sal julle met die swaard ombring, sodat julle vroue weduwees en julle kinders wese word.