en as die volke van die land koopware en allerhande soorte koring bring om op die sabbatdag te verkoop, dat ons niks van hulle sou neem op die sabbat of op ’n heilige dag nie; en dat ons in die sewende jaar die land braak sou laat lê en van elke skuldvordering afsien.
In dié dae het ek in Juda mense gesien wat op die sabbat die parskuipe trap en vragte koring, op esels gelaai, inbring, en ook wyn, druiwe en vye en allerhande vragte met goed, en dit op die sabbatdag in Jerusalem inbring; en ek het hulle gewaarsku op die dag toe hulle lewensmiddele verkoop het. Ook die Tiriërs wat daar gewoon het, het vis en allerhande koopware ingebring en op die sabbat aan die kinders van Juda selfs in Jerusalem verkoop. En ek het met die edeles van Juda getwis en vir hulle gesê: Watter verkeerde ding is dit wat julle doen, dat julle die sabbatdag ontheilig? Het julle vaders nie so gehandel, sodat onse God oor ons en oor hierdie stad al hierdie onheil gebring het nie? Ja, julle vermeerder die toorngloed oor Israel deur die sabbat te ontheilig! En sodra dit in die poorte van Jerusalem voor die sabbat donker was, het ek gesê dat die deure gesluit moes word; en ek het gesê dat hulle dit nie mag oopmaak tot ná die sabbat nie, en van my mense het ek by die poorte aangestel: geen vrag het op die sabbatdag mag inkom nie. Toe het die koopmans en handelaars in allerhande koopware ’n paar keer buitekant Jerusalem vernag. Maar ek het hulle gewaarsku en vir hulle gesê: Waarom vernag julle voor die muur? As julle dit weer doen, sal ek die hand aan julle slaan. Van dié tyd af het hulle nie meer op die sabbat gekom nie. Verder het ek aan die Leviete gesê dat hulle hul moes reinig en kom as poortwagters om die sabbatdag te heilig. Dink ook hierom aan my, my God, en ontferm U oor my na die grootheid van u goedertierenheid.
maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.
Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit ’n dag van volkome rus, ’n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie—dit is ’n sabbat van die HERE in al julle woonplekke.
Onderhou die sabbatdag, dat jy dit heilig soos die HERE jou God jou beveel het. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou esel of enige dier van jou, of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie; sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy.
As jy jou voet terughou van die sabbat—om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ’n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.
So spreek die HERE: Neem julle in ag om julle siele ontwil, dat julle geen las dra op die sabbatdag en dit inbring deur die poorte van Jerusalem nie. Ook mag julle geen las uit julle huise op die sabbatdag uitdra of enige werk doen nie; maar julle moet die sabbatdag heilig soos Ek julle vaders beveel het.
En op die eerste dag moet daar ’n heilige samekoms wees; ook op die sewende dag moet daar vir julle ’n heilige samekoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie; net wat deur elkeen geëet moet word, dit alleen mag deur julle berei word.
En dit moet vir julle ’n ewige insetting wees: in die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle jul verootmoedig en géén werk doen nie—die kind van die land sowel as die vreemdeling wat onder julle vertoef.
En julle moet op daardie selfde dag uitroep: ’n heilige vierdag moet dit vir julle wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Dit is ’n ewige insetting in al julle woonplekke vir julle geslagte. ... Op die eerste dag moet daar ’n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Sewe dae lank moet julle aan die HERE ’n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle ’n heilige vierdag wees, en julle moet aan die HERE ’n vuuroffer bring. Dit is ’n feestyd; julle mag geen beroepswerk doen nie.
En ses jaar lank moet jy jou land besaai en die opbrings daarvan insamel; maar in die sewende moet jy dit ongebruik en braak laat lê, dat die arm mense van jou volk kan eet; en wat hulle laat oorbly, kan die diere van die veld opeet. So moet jy doen met jou wingerd en jou olyfbome.
maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ’n sabbat vir die HERE; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie. Wat van jou oes opslaan, moet jy nie afoes nie, en die druiwe van jou ongesnoeide wingerdstok nie afsny nie. Dit moet ’n jaar van rus vir die land wees. En die opbrings van die sabbat van die land sal julle voedsel wees; vir jou en jou slaaf en jou slavin en jou dagloner en jou bywoner wat by jou vertoef, en vir jou vee en die wild wat in jou land is, sal die hele opbrings daarvan wees om te eet.
sodat die woord van die HERE deur die mond van Jeremía vervul sou word: totdat die land vir sy sabbatte vergoeding gekry het; al die dae van die verwoesting het dit gerus om sewentig jaar vol te maak.
EN daar het ’n groot geroep van die volk en van hulle vroue ontstaan teen hulle broers, die Jode; en sommige het gesê: Ons seuns en ons dogters, ons is baie; ons wil koring hê, dat ons kan eet en lewe! En ander het gesê: Ons lande en ons wingerde en ons huise moes ons verpand, sodat ons koring kon koop in die hongersnood! En ander weer het gesê: Ons het op ons lande en ons wingerde geld geleen vir die belasting aan die koning. En nou, ons vlees is soos die vlees van ons broers en ons kinders soos hulle kinders, en tog moet ons nou ons seuns en ons dogters tot slawe verneder, en van ons dogters is al verneder sonder dat ons daar iets aan kan doen, en ons lande en ons wingerde behoort aan ander. En ek was baie verontwaardig toe ek hulle geroep en hierdie woorde hoor. En ek het by myself beraadslaag en met die edeles en die leiers getwis en aan hulle gesê: Julle leen uit op woeker, elkeen aan sy broer! En ek het ’n groot vergadering teen hulle belê en aan hulle gesê: Óns het ons Joodse broers wat aan die heidene verkoop was, na ons vermoë losgekoop; en tog verkoop júlle jul broers, sodat hulle hul aan ons moet verkoop. En hulle het geswyg en geen antwoord gevind nie. Verder het ek gesê: Dit is nie goed wat julle doen nie. Moet julle nie in die vrees van onse God wandel ter wille van die smaad van die heidene, ons vyande, nie? Ek self, my broers en my mense het ook aan hulle geld en koring geleen; laat ons tog hierdie lening kwytskeld. Gee dan vandag nog hulle lande, hulle wingerde, hulle olyfbome en hulle huise aan hulle terug, en die honderdste deel van die geld en die koring, die mos en die olie wat julle aan hulle geleen het. Daarop sê hulle: Ons sal dit teruggee en niks van hulle vorder nie; ons sal net so handel soos u gesê het. En ek het die priesters geroep en hulle laat sweer om volgens hierdie woord te handel. Ook het ek my boesem uitgeskud en gesê: Mag God so elke man uitskud wat hierdie woord nie bevestig nie, uit sy huis en uit sy besitting; en mag hy so uitgeskud en leeg wees! Toe sê die hele vergadering: Amen! en hulle het die HERE geprys. En die volk het volgens hierdie woord gehandel.
AAN die einde van sewe jaar moet jy ’n kwytskelding laat plaasvind. En dit is die saak van die kwytskelding: elke skuldeiser moet kwytskeld wat hy aan sy naaste geleen het; hy moet sy naaste en sy broer nie aanmaan nie, want tot eer van die HERE is daar ’n kwytskelding uitgeroep. Die uitlander mag jy aanmaan; maar wat jy by jou broer het, moet jou hand kwytskeld. ... AS daar by jou ’n arme is, een uit jou broers, in een van jou poorte, in jou land wat die HERE jou God jou sal gee, dan moet jy jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie. Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek. Neem jou in ag, dat daar in jou hart geen slegte gedagte is nie, naamlik: Die sewende jaar, die jaar van kwytskelding, is naby—en jou oog dan jou arm broer skeef aankyk, en jy hom niks gee nie, en hy teen jou na die HERE roep, en dit sonde in jou word.
En die heer van daardie dienskneg het innig jammer vir hom gevoel en hom losgelaat en hom die skuld kwytgeskeld. Maar toe daardie dienskneg uitgaan en een van sy medediensknegte vind wat hom honderd pennings skuldig was, het hy hom aan die keel gegryp en gesê: Betaal my wat jy skuld. Sy mededienskneg val toe voor sy voete neer en smeek hom en sê: Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal. En hy wou nie, maar het gegaan en hom in die gevangenis gewerp totdat hy die skuld sou betaal het. En toe sy medediensknegte sien wat gebeur het, was hulle baie bedroef, en hulle het gegaan en aan hulle heer meegedeel alles wat gebeur het. Daarop roep sy heer hom en sê vir hom: Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie? En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was. So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.
Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek?