2 Samuel 23:20
Verder Benája, die seun van Jójada, ’n sterk man, groot van daad, uit Kábseël; hy het die twee groot helde van Moab verslaan; en hy het afgegaan en ’n leeu binne-in ’n kuil doodgeslaan op ’n sneeudag.
General
2 Samuel 8:18
En Benája, die seun van Jójada, was oor die Kreti en die Pleti, en die seuns van Dawid was priesters.
2 Samuel 20:23
En Joab was oor die hele leër van Israel, en Benája, die seun van Jójada, oor die Kreti en oor die Pleti;
1 Konings 1:8, 26, 38
Maar Sadok, die priester, en Benája, die seun van Jójada, en Natan, die profeet, en Símeï en Reï en die helde van Dawid het nie met Adónia saamgegaan nie. ... Maar mý, u dienaar, en Sadok, die priester, en Benája, die seun van Jójada, en Salomo, u dienaar, het hy nie genooi nie. ... Toe het Sadok, die priester, afgegaan saam met Natan, die profeet, en Benája, die seun van Jójada, en die Kreti en die Pleti, en hulle het Salomo laat ry op die muil van koning Dawid en hom na Gihon gebring.
1 Konings 2:29-35, 46-47
En aan koning Salomo is meegedeel: Joab het gevlug na die tent van die HERE, en kyk, daar is hy by die altaar! Toe laat Salomo aan Benája, die seun van Jójada, weet: Gaan heen, val op hom aan. Daarop het Benája by die tent van die HERE gekom en vir hom gesê: So spreek die koning: Kom uit. Maar hy sê: Nee, want hier wil ek sterf. En Benája het die koning ’n antwoord gebring en gesê: Só het Joab gespreek, en só het hy my geantwoord. Toe beveel die koning hom: Doen soos hy gespreek het: val op hom aan, en begrawe hom, sodat jy die onskuldige bloed wat Joab vergiet het, van my en my vader se huis af verwyder; en dat die HERE sy bloed op sy eie hoof laat neerkom, omdat hy op twee manne, regverdiger en beter as hy, aangeval en hulle met die swaard vermoor het sonder medewete van my vader Dawid: Abner, die seun van Ner, die leërowerste van Israel, en Amása, die seun van Jeter, die leërowerste van Juda; en dat hulle bloed op die hoof van Joab en op die hoof van sy nageslag vir ewig kan neerkom, maar Dawid en sy nageslag en sy huis en sy troon vrede kan hê van die HERE tot in ewigheid. Toe het Benája, die seun van Jójada, opgegaan en op hom aangeval en hom gedood; en hy is begrawe in sy huis in die woestyn. Daarop het die koning Benája, die seun van Jójada, in sy plek oor die leër aangestel; en Sadok, die priester, het die koning aangestel in die plek van Ábjatar. ... Daarop gee die koning bevel aan Benája, die seun van Jójada: dié het uitgegaan en op hom aangeval, sodat hy gesterf het. En die koningskap is bevestig in die hand van Salomo.
1 Kronieke 18:17
En Benája, die seun van Jójada, was oor die Kreti en die Pleti, en die oudste seuns van Dawid was in diens van die koning.
1 Kronieke 27:5-6
Die derde leërowerste vir die derde maand was Benája, die seun van Jójada, die hoëpriester, en by sy afdeling was vier-en-twintigduisend. Hierdie Benája was ’n held van die dertig en oor die dertig, en oor sy afdeling was sy seun, Ammísabad.
General
Josua 15:21
En die stede van die uiteinde van die stam van Juda se kinders af tot by die grens van Edom was in die suide: Kábseël en Eder en Jagur,
General
Eksodus 15:15
Toe is die stamhoofde van Edom verskrik, bewing het die magtiges van Moab aangegryp. Al die inwoners van Kanaän het gebewe.
General
2 Samuel 1:23
Saul en Jónatan, die bemindes en lieflikes, is in hulle lewe en in hulle dood nie geskeie nie. Vinniger as arende was hulle, sterker as leeus.
1 Kronieke 11:22-24
Benája, die seun van Jójada, ’n dapper man, groot van daad, uit Kábseël; hy het die twee groot helde van Moab verslaan; en hy het afgegaan en ’n leeu binne-in ’n kuil doodgeslaan op ’n sneeudag. Hy het ook ’n Egiptenaar verslaan, ’n groot man, vyf el; en in die hand van die Egiptenaar was ’n spies soos ’n wewersbalk; maar hy het na hom afgegaan met ’n stok en die spies uit die hand van die Egiptenaar geruk en hom met sy eie spies doodgesteek. Dit het Benája, die seun van Jójada, gedoen; en hy het ’n naam gehad onder die drie helde.
1 Kronieke 12:8
Ook van die Gadiete het hulle afgeskei na Dawid, na die bergvesting in die woestyn, dapper manne, krygsmanne in die oorlog, toegerus met skild en spies, en hulle gesigte was leeugesigte, en hulle was vinnig soos gemsbokke op die berge:
General
Rigters 14:5-6
En Simson het met sy vader en sy moeder afgegaan na Timna; en toe hulle by die wingerde van Timna kom, storm daar ’n jong leeu brullende op hom af. Maar die Gees van die HERE het oor hom vaardig geword; en hy het dit verskeur soos ’n mens ’n bokkie verskeur sonder dat daar iets in sy hand was; maar hy het sy vader en sy moeder nie vertel wat hy gedoen het nie.
1 Samuel 17:34-37
Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar ’n leeu of ’n beer kom en ’n stuk kleinvee uit die trop wegdra, dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood. U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God uitgedaag het. Verder sê Dawid: Die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die HERE met jou wees!