Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe.
Nou dan, vervloek is julle! En nooit sal julle ophou om knegte, houtkappers sowel as waterputters, vir die huis van my God te wees nie. ... So het Josua dan op dié dag houtkappers en waterputters van hulle gemaak vir die vergadering en vir die altaar van die HERE, tot vandag toe, op die plek wat Hy sou uitkies.
Maar toe Israel sterk word, het hy die Kanaäniete dienspligtig gemaak; hy het hulle egter nie heeltemal verdrywe nie. En Efraim het die Kanaäniete, die inwoners van Geser, nie verdrywe nie; sodat die Kanaäniete in sy midde in Geser bly woon het. Sébulon het die inwoners van Kitron en die inwoners van Náhalol nie verdrywe nie; sodat die Kanaäniete in sy midde bly woon het; maar hulle het dienspligtig geword.
Al die mense wat oorgebly het van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, wat nie uit die kinders van Israel was nie — hulle kinders wat ná hulle in die land oorgebly het, wat die kinders van Israel nie met die banvloek kon tref nie, dié het Salomo laat opkom vir dwangarbeid, tot vandag toe.
Al die mense wat oorgebly het van die Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, wat nie uit Israel was nie — van hulle kinders wat ná hulle oorgebly het in die land, wat die kinders van Israel nie uitgeroei het nie, dié het Salomo laat opkom vir dwangarbeid, tot vandag toe.