Kruisverwysings → Genesis 9:10

en met al die lewende wesens wat by julle is: die voëls, die vee en al die wilde diere van die aarde by julle—al wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere van die aarde.

met al die lewende wesens

Genesis 9:15-16
dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ’n vloed word om alle vlees te verdelg nie. As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is.
Genesis 8:1
EN God het gedink aan Noag en aan al die wilde diere en al die vee wat saam met hom in die ark was; en God het ’n wind oor die aarde laat waai, sodat die waters gesak het.
Job 38:1-38; Job 39:1-3
DAARNA het die HERE Job uit ’n storm geantwoord en gesê: Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis? Gord dan soos ’n man jou heupe—dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My. Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. Wie het sy afmetinge bepaal?—jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God getuig het? En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het? Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel. Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het; en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word ’n grens gestel vir jou trotse golwe. Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys, om die some van die aarde aan te gryp, sodat die goddelose daarvan afgeskud word? Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder ’n seël; en die dinge kry gestalte soos ’n kleed. En aan die goddelose word hulle lig ontneem, en die hoë arm word verbreek. Het jy gekom tot by die bronne van die see? En het jy rondgewandel in die binneste diepte van die wêreldvloed? Is die poorte van die dood vir jou ontbloot? En het jy die poorte van die doodskaduwee gesien? Omvat jou begrip die breedtes van die aarde? Gee te kenne as jy dit alles weet. Waar is tog die weg na die woning van die lig? En die duisternis—waar is tog sy plek, sodat jy dit kan bring, elkeen na sy gebied en kan verstaan die paaie na hulle huis? Jy weet dit seker wel, want jy is toe gebore! En die getal van jou dae is groot! Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien, wat Ek opgespaar het vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog? Waar is tog die weg na die plek waar die lig gedeel word, die oostewind hom uitsprei oor die aarde? Wie het ’n kanaal gesplyt vir die stortvloed en ’n pad vir die onweerstraal; om te laat reën op ’n land waar geen mens is nie, op ’n woestyn waar niemand woon nie; om woestheid en verwoesting te versadig en op die groeiplek jong gras te laat uitspruit? Het die reën ’n vader? Of wie verwek die doudruppels? Uit wie se moederskoot kom die ys te voorskyn? En die ryp van die hemel—wie baar dit? Die waters word hard soos ’n klip, en die oppervlakte van die watervloed sluit aanmekaar. Kan jy die bande van die Sewe-ster knoop? Of die toue van die Oríon losmaak? Kan jy die Diereriem uitbring op sy tyd? En die Beer met sy kleintjies lei? Ken jy die wette van die hemel? Of kan jy sy heerskappy oor die aarde bestel? Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat ’n oorvloed van water jou oordek? Kan jy die bliksems uitstuur, sodat hulle heengaan en vir jou sê: Hier is ons! Wie het wysheid neergelê in die wolke? Of wie het verstand gegee aan die wolkgevaarte? Wie kan die wolke met wysheid tel? En die watersakke van die hemel—wie giet hulle leeg wanneer die stof saamvloei tot ’n stuk gietwerk en die kluite aanmekaar klewe? KAN jy prooi jag vir die leeuin? Of die honger van die jong leeus stil maak as hulle neerbuig in die lêplekke, klaar sit in die skuilplek om te loer? Wie berei vir die kraai sy spys as sy kleintjies roep tot God, ronddwaal by gebrek aan voedsel?
Job 40:20-28; Job 41:1-25
Kan jy die krokodil met ’n hoek uittrek? En met ’n tou sy tong afdruk? Kan jy ’n tou van biesies in sy neus sit? En sy kakebeen met ’n haak deurboor? Sal hy jou baie smeek? Of met jou spreek in sagte woorde? Sal hy ’n verbond met jou sluit, dat jy hom vir altyd as slaaf aanneem? Sal jy met hom soos met ’n voëltjie speel? En hom vasbind vir jou meisiekinders? Sal die viskopers met hom handel drywe, hom verdeel onder die koopmans? Kan jy sy vel vol skerp ysters steek, en met ’n vissersharpoen sy kop? Sit jou hand op hom; dink aan die geveg; jy sal dit nie weer doen nie. Kyk, elke hoop kom bedroë uit: sal ’n mens nie reeds by die sien van hom neerslaan nie? NIEMAND is so vermetel, dat hy hom durf terg nie; wie is hy dan wat voor My sou standhou? Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne. Ek wil nie swyg oor sy lede en hoe dit staan met sy kragsvolheid en die skoonheid van sy uitrusting nie. Wie het die boonste van sy pantser opgelig? In sy dubbele gebit—wie kan daarin deurdring? Die deure van sy gesig—wie het dit geopen? Rondom sy tande is verskrikking. ’n Voorwerp van trots is die groewe van die skilde, verseël met ’n vaste seël. Die een is so naby die ander, dat die wind daar nie tussenin kan kom nie. Hulle kleef aanmekaar, hou aanmekaar vas, onafskeibaar. Sy genies laat lig skitter, en sy oë is soos die ooglede van die dageraad. Uit sy mond kom fakkels, spat vuurvonke uit. Uit sy neusgate kom rook, soos uit ’n kokende pot met biesiesvuur daarby. Sy asem laat kole ontvlam, en ’n vlam gaan uit sy mond. In sy nek woon sterkte, en voor hom uit spring ontsteltenis. Die klompe van sy vleis is vas aanmekaar, aan hom vasgegiet, onbeweeglik. Sy hart is hard soos ’n klip, ja, hard soos die onderste meulsteen. As hy hom oplig, word die magtiges bang; van verbystering raak hulle buite hulself. Raak iemand hom met die swaard—dit hou nie stand nie; geen spies, lans of assegaai nie. Yster is vir hom soos strooi; koper soos hout wat vergaan het. Die pyl laat hom nie vlug nie; slingerstene word vir hom soos stoppels. Knopkieries is vir hom soos stoppels, en hy lag oor die gesuis van die lans. Onderaan hom is spits skerwe: hy sprei ’n ware dorsslee uit op die modder. Hy laat die diepte kook soos ’n pot; die waterplas maak hy soos ’n kokende salfpot. Agter hom verlig hy die pad: ’n mens sou die watervloed aansien vir grys hare. Sy gelyke is daar op die aarde nie, die skepsel sonder vrees. Hy kyk alles aan wat hoog is; hy is koning oor al die trotse roofdiere.
Psalms 36:6-7
o HERE, u goedertierenheid is tot in die hemele, u trou tot in die wolke. U geregtigheid is soos die berge van God; u oordele is ’n groot watervloed. HERE, u behou mense en diere!
Psalms 145:9
Tet. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke.
Jona 4:11
Maar Ek mag Ninevé, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee?