Kruisverwysings → Genesis 8:20

En Noag het vir die HERE ’n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring.

altaar gebou

Genesis 4:4
En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien,
Genesis 12:7-8
Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ’n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het. En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste- en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE ’n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep.
Genesis 13:4
na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die Naam van die HERE aangeroep.
Genesis 22:9
Toe hulle kom op die plek wat God hom aangewys het, het Abraham daar die altaar gebou en die hout reggelê; daarna het hy sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit.
Genesis 26:25
Toe bou hy daar ’n altaar, en hy het die Naam van die HERE aangeroep en daar sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar ’n put gegrawe.
Genesis 33:20
Daar het hy ook ’n altaar opgerig en dit genoem: Die God van Israel is God.
Genesis 35:1,7
DAARNA het God vir Jakob gesê: Maak jou klaar, trek op na Bet-el en woon daar; en bou daar ’n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op die vlug was vir jou broer Esau. ... en hy het daar ’n altaar gebou en die plek El Bet-el genoem, omdat God daar aan hom geopenbaar is toe hy vir sy broer gevlug het.
Eksodus 20:24-25
’n Altaar van grond moet jy vir My maak, en daarop moet jy jou brandoffers en dankoffers, jou kleinvee en beeste, offer. Op elke plek waar Ek my Naam sal laat gedenk, sal Ek na jou toe kom en jou seën. Maar as jy vir My ’n klipaltaar maak, mag jy dit nie bou van gekapte klip nie; want as jy jou ystergereedskap daaroor swaai, dan ontheilig jy dit.
Eksodus 24:4-8
En Moses het al die woorde van die HERE opgeskrywe en die môre vroeg hom klaargemaak en onder die berg ’n altaar gebou, en twaalf gedenkstene volgens die twaalf stamme van Israel. En hy het jongmanne van die kinders van Israel gestuur; dié het brandoffers geoffer en as dankoffers bulle vir die HERE geslag. En Moses het die helfte van die bloed geneem en dit in komme gegooi en die helfte van die bloed teen die altaar uitgegooi. En hy het die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. En hulle het gesê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister. Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat die HERE met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde.
Romeine 12:1
EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.
Hebreërs 13:10,15-16
Ons het ’n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie; ... Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely. Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers.
1 Petrus 2:5,9
en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. ... Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,

rein diere

Genesis 7:2
Van al die rein diere moet jy vir jou telkens sewe paar neem, die mannetjie met sy wyfie; maar van die diere wat nie rein is nie, twee, die mannetjie met sy wyfie.
Levitikus 11:1-47
EN die HERE het met Moses en Aäron gespreek en aan hulle gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Dit is die diere wat julle mag eet van al die viervoetige diere wat op die aarde is. Alles wat onder die diere gesplitste kloue het, en wel heeltemal gesplitste kloue, en herkou—dit mag julle eet. Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat gesplitste kloue het: die kameel, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie—onrein is hy vir julle; en die das, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie—onrein is hy vir julle; en die haas, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie—onrein is hy vir julle; ook die vark, want hy het gesplitste kloue, ja, heeltemal gesplitste kloue, maar hy herkou nie—onrein is hy vir julle. Van hulle vleis mag julle nie eet nie en aan hulle aas nie raak nie—onrein is hulle vir julle. Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het in die water, in die seë en in die riviere—dit mag julle eet. Maar alles wat geen vinne en skubbe het in die seë en in die riviere nie, van al die gewemel van die water en van al die lewende wesens wat in die water is—’n gruwel is dit vir julle. Ja, ’n gruwel moet hulle vir julle wees; van hulle vleis mag julle nie eet nie, en hulle aas moet julle vir ’n gruwel hou. Alles wat geen vinne of skubbe in die water het nie—’n gruwel is dit vir julle. En die volgende moet julle van die voëls vir ’n gruwel hou—hulle mag nie geëet word nie, ’n gruwel is hulle: die arend en die lammervanger en die aasvoël; en die kuikendief en die valk volgens sy soorte; elke kraai volgens sy soorte; en die volstruis en die naguil en die seemeeu en die kleinvalk volgens sy soorte; en die steenuil en die visvanger en die steunuil; en die silweruil en die pelikaan en die klein-aasvoël; en die groot-sprinkaanvoël, die reier volgens sy soorte, die hoep-hoep en die vlermuis. Al die insekte met vlerke wat op vier pote loop—’n gruwel is hulle vir julle. Maar die volgende mag julle eet van al die insekte met vlerke wat op vier pote loop: wat bokant die pote springbene het om daarmee op die grond te spring. Van hulle mag julle die volgende eet: die treksprinkaan volgens sy soorte en die boomsprinkaan volgens sy soorte en die springer volgens sy soorte en die voetganger volgens sy soorte. Maar al die ander insekte met vlerke wat vier pote het—’n gruwel is hulle vir julle. En deur hierdie diere word julle verontreinig—elkeen wat aan hulle aas raak, sal tot die aand toe onrein wees; en elkeen wat van hulle aas dra, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees — aan al die diere wat gesplitste kloue het, wat nie heeltemal gesplits is nie, en wat nie herkou nie. Onrein is hulle vir julle; elkeen wat aan hulle raak, sal onrein wees. En alles wat op kaal pote loop onder al die viervoetige diere—onrein is hulle vir julle; elkeen wat aan hulle aas raak, sal tot die aand toe onrein wees. Ook hy wat hulle aas dra, moet sy klere was en sal onrein wees tot die aand toe. Onrein is hulle vir julle. En die volgende is vir julle onrein onder die ongediertes wat op die aarde wemel: die mol en die muis en die akkedis volgens sy soorte, en die krimpvarkie en die geitjie en die klipsalmander en die koggelmander en die verkleurmannetjie. Hulle is vir julle onrein onder al die ongediertes; elkeen wat aan hulle raak as hulle dood is, sal tot die aand toe onrein wees. En alles waar een van hulle op val as hulle dood is, sal onrein wees; enige houtvoorwerp of kledingstuk of vel of sak, elke ding waarmee werk gedoen word; dit moet in die water gesit word en sal tot die aand toe onrein wees; dan sal dit rein wees. En elke erdevoorwerp waar een van hulle in val—alles wat daarin is, sal onrein wees, en julle moet die voorwerp self stukkend breek; enige voedsel wat geëet word waar water op kom, sal daarin onrein wees; en enige drank wat in so ’n voorwerp, van watter soort ook, gedrink kan word, sal onrein wees. En alles waar iets van hulle aas op val, sal onrein wees; ’n bakoond of ’n drievoet moet stukkend geslaan word; hulle is onrein, en onrein moet hulle vir julle wees. Maar ’n fontein of put, ’n versamelplek van water, sal rein wees; maar hy wat aan die aas daarin raak, sal onrein wees. En as van hulle aas val op enige saad wat gesaai word—dit sal rein wees. Maar as daar water op die saad gegooi word, en van hulle aas daarop val, dan sal dit vir julle onrein wees. En as daar van die diere wat julle as voedsel dien, doodgaan, sal hy wat aan die aas raak, tot die aand toe onrein wees; en hy wat van dié aas eet, moet sy klere was en sal onrein wees tot die aand toe. En hy wat dié aas dra, moet sy klere was en sal onrein wees tot die aand toe. En al die ongediertes wat op die aarde wemel, is ’n gruwel—dit mag nie geëet word nie. Alles wat op die buik seil en alles wat op vier pote loop, ook alles wat baie pote het, naamlik al die ongediertes wat op die aarde wemel—julle mag dit nie eet nie, want dit is ’n gruwel. Moenie julle self ’n gruwel maak deur enige ongedierte wat wemel nie: julle moet jul daaraan nie verontreinig, sodat julle daardeur onrein word nie. Want Ek is die HERE julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig; daarom, verontreinig julle self nie deur enige ongedierte wat op die aarde kruip nie. Want Ek is die HERE wat julle uit Egipteland laat optrek het om julle God te wees. So moet julle dan heilig wees, omdat Ek heilig is. Dit is die wet oor die diere en die voëls en al die lewende wesens wat roer in die water en aangaande al die wesens wat op die aarde wemel, om te onderskei tussen wat onrein en rein is, en tussen die diere wat geëet en die diere wat nie geëet mag word nie.

brandoffers

Levitikus 1:1-17
EN die HERE het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan die HERE ’n offer wil bring, kan julle jul offer bring van vee—van beeste of van kleinvee. As sy offer ’n brandoffer is van beeste, moet dit ’n bul sonder gebrek wees wat hy bring. By die ingang van die tent van samekoms moet hy dit bring, sodat hy welgevalle voor die aangesig van die HERE kan vind. En hy moet sy hand op die kop van die brandoffer lê, dan sal dit vir hom met welgevalle aangeneem word om versoening vir hom te doen. Dan moet hy die jong bul voor die aangesig van die HERE slag; en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed bring en die bloed rondom teen die altaar uitgooi wat by die ingang van die tent van samekoms is. Dan moet hy die brandoffer afslag en dit in sy stukke verdeel. En die seuns van Aäron, die priester, moet vuur op die altaar neersit en hout op die vuur reglê. Ook moet die seuns van Aäron, die priesters, die stukke, die kop en die vet reglê op die hout wat op die altaarvuur is. Maar die binnegoed en die pote moet hy met water was, en die priester moet dit alles op die altaar aan die brand steek as brandoffer, ’n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. En as sy offer ’n stuk kleinvee is, van skape of van bokke, as brandoffer, moet dit ’n ram sonder gebrek wees wat hy bring. En hy moet dit slag aan die noordekant van die altaar, voor die aangesig van die HERE; en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed daarvan rondom teen die altaar uitgooi. Daarna moet hy dit in sy stukke verdeel, met die kop en die vet, en die priester moet dit reglê op die hout wat op die altaarvuur is. Maar die binnegoed en die pootjies moet hy met water was, en die priester moet dit alles bring en op die altaar aan die brand steek; ’n brandoffer is dit, ’n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. En as sy offer aan die HERE ’n brandoffer is van voëls, moet hy sy offer bring van tortelduiwe of van jong duiwe. En die priester moet dit na die altaar bring en die kop afknyp en op die altaar aan die brand steek, en die bloed moet teen die kant van die altaar uitgedruk word. Dan moet hy die krop met die vere daaraan verwyder en dit by die altaar gooi, aan die oostekant, op die asplek. Dan moet hy dit by die vlerke skeur sonder om hulle af te trek; en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek, op die hout wat oor die vuur is; ’n brandoffer is dit, ’n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.