En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.
Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.
Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ’n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE.
Selfs ’n groot sprinkaanvoël aan die hemel ken sy bepaalde tye, en ’n tortelduif en ’n swaweltjie en ’n kraanvoël neem die tyd van hulle koms in ag; maar my volk ken die reg van die HERE nie.
hy sien die hemel geopend en ’n voorwerp soos ’n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel.