Op daardie selfde dag het Noag en Sem en Gam en Jafet, die seuns van Noag, sowel as die vrou van Noag en die drie vroue van sy seuns saam met hulle in die ark gegaan.
DAARNA het die HERE aan Noag gesê: Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag. ... En Noag en sy seuns en sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom het in die ark gegaan vanweë die waters van die vloed. Van die rein diere en van die diere wat nie rein is nie, en van die voëls en van alles wat op die aarde kruip, het daar twee-twee na Noag in die ark gegaan, ’n mannetjie en ’n wyfie, soos God Noag beveel het.
Deur die geloof het Noag, toe hy ’n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ’n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.
wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God eenmaal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is;
en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het;
EN die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Sem en Gam en Jafet. En Gam was die vader van Kanaän. Hierdie drie was die seuns van Noag; en met hulle begin die uitbreiding van al die aardbewoners.
EN dit is die stamboom van die seuns van Noag: Sem, Gam en Jafet—vir hulle is daar seuns gebore ná die vloed. Die seuns van Jafet was: Gomer en Magog en Madai en Jawan en Tubal en Meseg en Tiras. ... En die seuns van Gam was: Kus en Misraim en Put en Kanaän. ... En ook vir Sem, die stamvader van al die seuns van Heber, die ouer broer van Jafet, is seuns gebore.
Noag, Sem, Gam en Jafet. Die seuns van Jafet was: Gomer en Magog en Madai en Jawan en Tubal en Meseg en Tiras. En die seuns van Gomer was: Áskenas en Rifat en Togárma. En die seuns van Jawan was: Elísa en Tarsísa, die Kittiërs en Rodaniete. Die seuns van Gam was: Kus en Misráim, Put en Kanaän. En die seuns van Kus was: Seba en Hawíla en Sabta en Raéma en Sábtega; en die seuns van Raéma was: Skeba en Dedan. En Kus was die vader van Nimrod; hý het begin om ’n geweldenaar op die aarde te wees. En Misráim was die vader van die Ludiete en Anamiete en Lehabiete en die Naftuhiete, en die Patrusiete en Kasluhiete—waaruit die Filistyne voortgekom het—en die Kaftoriete. En Kanaän was die vader van Sidon, sy eersgeborene, en Het en die Jebusiete en Amoriete en Girgasiete, en die Hewiete en Arkiete en Siniete, en die Arwadiete en Semariete en Hamatiete. Die seuns van Sem was: Elam en Assur en Arpágsad en Lud en Aram en Us en Hul en Geter en Meseg. En Arpágsad was die vader van Selag, en Selag van Heber. En vir Heber is twee seuns gebore; die naam van die een was Peleg, want in sy dae het die aardbewoners verdeeld geraak; en sy broer se naam was Joktan. En Joktan was die vader van Almódad en Selef en Hasarmáwet en Jerag, en Hadóram en Usal en Dikla, en Ebal en Abímael en Skeba, en Ofir en Hawíla en Jobab. Hulle almal was seuns van Joktan. SEM, Arpágsad, Selag, Heber, Peleg, Rehu, Serug, Nahor, Tera, Abram; dit is Abraham. Die seuns van Abraham was Isak en Ismael.