Want oor nog sewe dae sal Ek laat reën op die aarde, veertig dae en veertig nagte, en al die lewende wesens wat Ek gemaak het, van die aarde verdelg. ... En die vloed was veertig dae lank op die aarde: die waters het vermeerder en die ark opgehef, sodat dit opgerys het bo die aarde. En die waters het die oorhand gekry en grootliks vermeerder op die aarde, terwyl die ark op die waters drywe. En die waters het heeltemal die oorhand gekry op die aarde, sodat al die hoë berge onder die ganse hemel bedek was. Vyftien el bo hulle het die waters die oorhand gekry, sodat die berge bedek was.
Want kyk, Ék bring ’n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar ’n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe.
Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.