In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.
Dit word ook as ’n land van Refaïete beskou; Refaïete het tevore daarin gewoon, en die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem — ’n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete—maar die HERE het dié voor hulle uit verdelg, sodat hulle dié uit hulle besitting verdryf en in hulle plek gaan woon het;
Want Og, die koning van Basan, het net alleen oorgebly van die Refaïete. Is sy ledekant, ’n ysterledekant, nie daar in Rabba van die kinders van Ammon nie? Nege el is sy lengte en vier el sy breedte, gewone elle.
EN toe die Filistyne weer oorlog gehad het met Israel, het Dawid afgetrek, en sy dienaars saam met hom, en hulle het teen die Filistyne geveg, en Dawid het al moeg geword. En Jisbi-Benob wat uit die kinders van die Refaïete was—die gewig van sy spies was driehonderd sikkels koper in gewig, en hy was omgord met ’n nuwe swaard—het gedink om Dawid te verslaan. Maar Abísai, die seun van Serúja, het hom gehelp en die Filistyn verslaan en hom gedood. Toe het die manne van Dawid hom besweer en gesê: U mag nie meer saam met ons uittrek na die geveg nie, dat u die lamp van Israel nie uitblus nie. En daarna was daar weer oorlog met die Filistyne in Gob. Toe het Síbbegai, die Husatiet, Saf, uit die kinders van die Refaïete, verslaan. En daar was weer oorlog met die Filistyne in Gob; en Élhanan, die seun van Jáäre-Orgim uit Betlehem, het Góliat, die Gittiet, wie se spiessteel soos ’n wewersbalk was, verslaan. En daar was weer oorlog in Gat; en daar was ’n baie lang man, met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, vier-en-twintig in getal, en hy was ook ’n afstammeling van die Refaïete. En hy het Israel gehoon, maar Jónatan, die seun van Símea, die broer van Dawid, het hom verslaan. Hierdie vier was afstammelinge van die Refaïete in Gat, en hulle het geval deur die hand van Dawid en deur die hand van sy dienaars.
En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ’n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.
en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met tweehonderd-en-vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam.