Genesis 6:20
Van die voëls volgens hulle soorte en van die vee volgens hulle soorte, van al die kruipende diere van die aarde volgens hulle soorte, twee van elke soort, moet na jou kom om in die lewe te bly.
Van die voëls
Genesis 1:20-24
En God het gesê: Laat die waters wemel met ’n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel. En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. En God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder. En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag. En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so.
Handelinge 10:11-12
hy sien die hemel geopend en ’n voorwerp soos ’n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel.
twee van elke soort, moet na jou kom
Genesis 1:28
En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Genesis 2:19
En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.
Genesis 7:8-16
Van die rein diere en van die diere wat nie rein is nie, en van die voëls en van alles wat op die aarde kruip, het daar twee-twee na Noag in die ark gegaan, ’n mannetjie en ’n wyfie, soos God Noag beveel het. Ná die sewe dae kom toe die waters van die vloed op die aarde. In die seshonderdste jaar van die lewe van Noag, in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand, op dieselfde dag, is al die fonteine van die groot watervloed oopgebreek, en die sluise van die hemel is geopen; en die stortreën was op die aarde veertig dae en veertig nagte lank. Op daardie selfde dag het Noag en Sem en Gam en Jafet, die seuns van Noag, sowel as die vrou van Noag en die drie vroue van sy seuns saam met hulle in die ark gegaan. Hulle en al die wilde diere volgens hulle soorte en al die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die aarde kruip, volgens hulle soorte en al die voëls volgens hulle soorte, voëls van allerhande vere— van al die vlees waar ’n lewensgees in was, het twee-twee na Noag in die ark gegaan. En die wat ingaan, het gegaan as mannetjie en wyfie van alle vlees soos God hom beveel het. En die HERE het agter hom toegesluit.
Johannes 5:40
En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.