En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam metdie aarde verdelg.
Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom
En jy, mensekind, so spreek die Here HERE tot die land van Israel: Einde! Die einde het gekom oor die vier hoeke van die land. Nou is die einde oor jou, en Ek sal my toorn teen jou uitstuur en jou oordeel volgens jou weë en al jou gruwels op jou laat neerkom; en my oog sal jou nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie, maar Ek sal jou wandel op jou laat neerkom, en jou gruwels sal in jou midde wees; en julle sal weet dat Ek die HERE is. So sê die Here HERE: Onheil op onheil, kyk, dit kom! ’n Einde kom, die einde kom, dit word wakker teen jou; kyk, dit kom!
En Hy sê: Wat sien jy, Amos? En ek antwoord: ’n Mandjie met somervrugte. Toe sê die HERE vir my: Die einde het vir my volk Israel gekom; Ek sal hom verder nie meer verbygaan nie.
In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. ... Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. Toe sien God die aarde aan, en—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.
HOOR die woord van die HERE, o kinders van Israel! Want die HERE het ’n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie. Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak.
So is dan al die lewende wesens verdelg wat op die aarde was, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is verdelg van die aarde af. En net Noag het oorgebly en wat by hom in die ark was.
Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie. Ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe, en al die heuwels het geskud. Ek het gekyk, en daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het weggevlieg. Ek het gekyk, en die land van tuine was ’n woestyn, en al sy stede was afgebreek voor die HERE, voor sy toorngloed. Want so sê die HERE: Die hele land sal ’n wildernis word, alhoewel Ek daar geen einde aan sal maak nie. Hieroor sal die aarde treur en die hemel daarbo rou dra, omdat Ek dit gespreek, My dit voorgeneem het en Ek geen berou het en daarvan nie sal terugkom nie.
Deur die geloof het Noag, toe hy ’n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ’n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.
waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense. ... Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.