Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u rus moet wees.
Luister nou na my; ek sal jou raad gee, en God sal met jou wees. Wat jou betref, wees jy die verteenwoordiger van die volk by God en bring jý die sake voor God, en onderrig hulle in die insettinge en die wette, en maak hulle die weg bekend waarop hulle moet gaan, en die werk wat hulle moet doen. Maar kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat. En stel dié aan oor hulle: owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien; en laat hulle voortdurend oor die volk die regspraak uitoefen: al die groot sake moet hulle na jou bring, maar in al die klein sake moet hulle self regspreek. Maak dit so ligter vir jou, en laat hulle saam met jou dra.